Leroi verteenwoordig SA in Tunisië
Ons wens Leroi Leroux sterkte toe vir die World Para Athletics Grand Prix Tunis 2026
VANDERBIJPARK – Die World Para Athletics Grand Prix Tunis 2026 vind volgende week in Tunisië plaas. Die Vaaldriehoek se eie Leroi Leroux is die enigste Suid-Afrikaner wat aan die byeenkoms gaan deelneem.

Leroi het eers as ‘n staande atleet aan diskus en gewigstoot deelgeneem, maar dit het te veel stremming op sy been veroorsaak. Hy het dus oorgeskakel na ‘n sittende posisie waar hy vanuit ‘n rolstoel kompeteer.
Leroi het die afgelope maande hard geoefen en hoop om die Suid-Afrikaanse rekord in diskus vir klas S57 te breek. Die rekord staan tans op 36,2 m.
Voordat die toernooi begin, sal hy deur die klassifikasieproses moet gaan om hom as sittende gooier (S57) te klassifiseer. Dit sal hom in staat stel om aan diskus, gewigstoot en spiesgooi deel te neem.
Hy wil juis in die toekoms meer op gewigstoot konsentreer en mik vir ‘n afstand van 13 m. Naas die kompetisie in Tunisië, het hy sy oog op ‘n groot atletiekbyeenkoms in Germiston oor ‘n paar maande.
Leroi se grootste droom en doelwit is om vir die Paralimpiese Spele te kwalifiseer en gekies te word.
