MEYERTON – Die Valke-laerskolerugby eindstryde het verlede Woensdag 10 Junie by die Hoërskool Dr. Malan in Meyerton plaasgevind waar die streek se beste spanne in die Akademie-, Elite- en Super-afdelings teen mekaar meegeding het.
In die o.9-afdeling het Lumière die Akademie-titel verower deur Heilbron met 37-19 te klop, terwyl Emfulenipark die Elite-afdeling gewen het deur Fonteine met 12-10 te klop.
Midvaal is as Superkampioen gekroon nadat hulle Vryheidsmonument met 18-5 verslaan het.

Laerskool Risiville het die o.10 Superafdeling gewen deur Midvaal met 21-10 te klop.
In die o.11-eindstryde het Lumière die Akademie-afdeling gewen deur Voorwaarts met 26-12 te klop.
Fonteine het die Elite-titel met naelskraapse sege met 15-12 oor Parys ingepalm, terwyl Volkskool die Superafdeling gewen het nadat hulle Risiville met 12-5 verslaan het.
In die o.11B Elite-afdeling het Fonteine ook met louere weggestap toe hy Parys met 15-10 geklop het.
In die o.13B-afdeling het Emfulenipark die Elite-titel gewen deur Noordskool met 19-12 te klop, terwyl Volkskool as Superkampioen geëindig het ná ’n spannende sege met 24-21 oor Kollegepark.
Die o.13A-eindstryde het vir groot opwinding gesorg. Handhawer het die Akademie-afdeling gewen toe hy Lumière met 34-24 geklop het. Noordskool het die Elite-afdeling gewen deur Emfulenipark met 29-19 te klop.
In die hoofwedstryd van die dag het Heidelberg Volkskool die Superafdeling gewen nadat hulle Risiville oortuigend met 22-3 verslaan het.
