Leona’s Dance Studio se leerlinge presteer internasionaal
Leerlinge van Leona’s Dance Studio in Sasolburg het teen mededingers van 24 lande deelgeneem en uitsonderlike prestasies in verskeie items behaal.
Leerlinge van Leona’s Dance Studio in Sasolburg wat Suid-Afrika by die Internasionale Uitvoerende Kunste-kompetisie “Stars of the Universe 2022″ verteenwoordig het, het beslis hul land én die Vaaldriehoek se naam hoog gehou!
Hulle het teen 24 lande deelgeneem en uitsonderlike prestasies in verskeie items behaal. Altesaam het hulle agt eersteplekke (goud) en nege tweedeplekke (silwer) in die wêreld verwerf. Die leerlinge wat deelgeneem het, ontvang ook Suid-Afrikanse kleure in Uitvoerende Kunste.
“Al was daar nog steeds ‘n nasionale inperking, was daar steeds ‘n landwye deelname,” sê hul dansafrigter, Leona Fourie.
“Ek is baie trots op elke leerling van die dansstudio wat deelgeneem het en is beïndruk met hul deursettingsvermoë in die afgelope twee jaar. Gedurende dié twee jaar met Covid was daar baie nuwe uitdagings in die studio. My dank gaan ook aan die wonderlike ouers wat Leona’s Dance Studio ten volle ondersteun. Die studio staan nog sterk en gesamentlik vorm ons ‘n fantastiese dansfamilie.”
Leona’s Dance Studio bestaan reeds 22 jaar in Sasolburg en is tans besig met die voorbereiding vir ‘n groot optrede. “Ons beoog om in die derde kwartaal weer die verhoog met ‘n lekker konsert warm te dans,” sê Leona.

**************************************************************************************************

