Lid van Queen met Vaaldriehoekse nooi getroud
Die tromspeler Roger Taylor is al byna 12 jaar met Sarina Potgieter, 'n gebore Vanderbijlparker, getroud
Al is jy ‘n tiener of tagtiger, die kanse is goed dat jy die rockgroep Queen se treffers, We Will Rock You en We Are the Champions, sal ken. Dié twee ikoniese treffers, wat presies 45 jaar gelede in 1977 vrygestel is, is immers steeds die bekendste aanhits-liedere by groot stadionsport dwarsoor die wêreld.
Die legendariese Freddie Mercury en sy Queen-orkeslede, Roger Taylor, Brian May en John Deacon, het deur die jare huishoudelike name vir popliefhebbers geword en meer as 300 miljoen eksemplare van hul studio-albums is al wêreldwyd verkoop.
Wat min inwoners van die Vaaldriehoek weet, is dat Roger Taylor, Queen se talentvolle tromspeler, al byna 12 jaar getroud is met die pragtige Sarina Potgieter, wat in ons eie kontrei gebore is en grootgeword het.
Sarina is op 18 Desember 1971 in die destydse Vanderbijlpark-hospitaal gebore en het in Vereeniging grootgeword. Omdat sy van jongs af ‘n liefde vir drama en ballet gehad het, het haar ouers haar op 12-jarige ouderdom by die National School of the Arts in Johannesburg ingeskryf, waar sy haar hoërskoolloopbaan voltooi het. Sy het daarna in spesiale effekte, rekwisiete en stelontwerp aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie in Pretoria studeer. Met dié kwalifikasie agter haar naam is sy oorsee, waar sy professioneel gaan dans het en by ‘n aantal wêreldwye teaterproduksies betrokke was.
Sarina se paadjie het in die vroeë 2000’s met dié van Taylor gekruis. Hulle was ses jaar ‘n paartjie voordat hulle op 3 Oktober 2010 getroud is.
Moet egter nie dink dat dié voormalige Vaaldriehoekse nooi op die rug van haar man se bekendheid ry nie. Sy is ‘n gerespekteerde filmvervaardiger uit eie reg, wat onder andere by die maak van die bekroonde Britse drama, Solitary (2015), en die films The Necromancer (2018) en Tomorrow (2018) betrokke was. Een van haar grootste suksesse was die musiekvideo Journey’s End, wat sy in 2017 vir haar man vervaardig het. Dit het onmiddellik die nommer 1-posisie op die Britse Music Video iTunes ingeneem en was ook wêreldwyd in die Top Tien.
Die egpaar word steeds gereeld by die wêreld se prestige sosiale en vermaaklikheidsgeleenthede opgemerk en te oordeel aan hul foto’s in die glanstydskrifte is hulle steeds dolgelukkig.
* Roger Taylor en Brian May werk steeds saam as Queen, met Paul Rodgers as nuwe hoofsanger. Ná Mercury se dood in 1991 het John Deacon hom uit die openbare lewe onttrek.
‘n Huldeblyk wat Queen se bekendste treffers insluit, word tans deur Team Shaky Production by die Riviera-on-Vaal Hotel in Vereeniging aangebied. Die vertonings vind plaas om 19:00 op29 April en 6 Mei. Kaartjies kos R385 per persoon en sluit aandete in. Vir besprekings, skakel (016) 420 1300 of click op hierdie banier:


Foto onder: Roger Taylor (73) en sy vrou, Sarina Potgieter Taylor (51), wat in die Vaaldriehoek opgegroei het. Foto: Facebook/Sarina Potgieter

*********************************************************************************


