Vaaldriehoekse groep met Afro-Indie toekenning vereer
"Dis ‘n great gevoel om te weet dat jou musiek gehoor en waardeer word" - Victor Bravo
Victor Bravo, ‘n gewilde sangduo met hul wortels stewig in die Vaaldriehoek geanker, is onder die uitgelese kunstenaars wat verlede week by die jaarlikse Afro-Indie Onafhanklike Kunstenaarstoekennings in Pretoria vereer is.
Dié toekenningsgeleentheid, wat as Suid-Afrika se Grammy’s vir onafhanklike kunstenaars beskou word, is op 12 April in die AfriForum-teater in Menlopark gehou.
Onder die talle bekende musieklegendes wat vir hul lewenslange bydrae tot die plaaslike musiekbedryf vereer is, is Rina Hugo, Johan van Rensburg, Steve Hofmeyr en Sonja Herholdt.
Joshua na die Reën het met die toekenning as beste manskunstenaar weggestap en Irene-Louise van Wyk is as beste vrouekunstenaar aangewys. Die oud-Vaaldriehoekse sanger en liedjieskrywer, Rudi Claase, het ‘n toekenning as beste regstreekse manskunstenaar en nog een vir die beste kontemporêre album ontvang.
Victor Bravo, bestaande uit die sangers Weco van Basten en Jopie Pienaar, het hul toekenning met hul liedjie, Suiderkruis, verdien. Die duo sê hulle is baie dank verskuldig aan die Here vir die talent waarmee hulle geseën is. Daarby is hulle ook dankbaar vir die rugsteun van hul vroue, hul families, vriende, aanhangers en almal in die musiekbedryf wat hulle deurlopend ondersteun. Hulle betuig ook dank aan Dries en Linel Visser van Cow & Bull in die Vaaldriehoek, wat hulle van die begin af ‘n kans gegee het om hulself aan die publiek bekend te stel.
“Dinsdagaand se toekennings was gróót. Dis ‘n great gevoel om te weet dat jou musiek gehoor en waardeer word. Dankie daarvoor, Afri-Indie Kunstenaartoekennings en die hooforganiseerder, Rea le Roux,” sê Van Basten.

************************************************************

