News

Groot dele van Vanderbijlpark en Vereeniging sedert Saterdag sonder krag

Steeds geen aanduiding oor wanneer kragtoevoer herstel gaan word nie.

VANDERBIJLPARK – Inwoners van verskeie woongebiede in Vanderbijlpark en Vereeniging sit sedert Saterdag sonder elektrisiteit, terwyl tegnici steeds sukkel om die kragtoevoer te herstel.

Volgens die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit is daar tans geen aanduiding wanneer die kragtoevoer na al die betrokke gebiede herstel sal wees nie.

In Vanderbijlpark se suidwestelike woongebiede het tegnici ná inspeksies van die kraglyne twee keer probeer om die Unibijl- en Frikkie Meyer-substasies weer aan te skakel, maar sonder sukses.

Daar word vermoed dat ‘n foutiewe ondergrondse kabel tussen die Vesco- en Unibijl-substasies die probleem veroorsaak. Kabeltoetse word tans uitgevoer om die fout op te spoor, waarna herstelwerk kan begin.

By die Town-substasie is tegnici besig om beskadigde stroomtransformators met droë ys skoon te maak. Dié werk is byna afgehandel en toetse sal binnekort volg.

Indien geen verdere skade gevind word nie, sal die toerusting weer aangeskakel word om kragtoevoer na die sentraalwestelike woongebiede en dele van NW 7 te herstel.

Indien die transformators wel beskadig is, sal dit vervang moet word sodra die nodige onderdele beskikbaar is.

Intussen is ‘n fout aan ‘n hoogspanningskabel tussen TR41 en TR55 in Orange Drive in Drie Riviere, Vereeniging, opgespoor.

Dele van Drie Riviere sal sonder elektrisiteit bly totdat die kabel herstel is.

Die munisipaliteit sê alle beskikbare tegnici werk om die kragtoevoer so gou moontlik te normaliseer.

Inwoners word gevra om geduldig te wees terwyl herstelwerk voortduur. Die munisipaliteit het ook om verskoning gevra vir die ongerief.

Geen beraamde hersteltyd kon teen Sondagaand verskaf word nie.

Dringende elektrisiteitsfoute en noodgevalle kan per WhatsApp by die munisipaliteit se elektrisiteitsbeheerkamer by 065 871 7483 aangemeld word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button