EntertainmentLifestyleLocal newsNewsNews

Aktiewe Ouma Bettie vier haar 92ste jaar saam met nageslag

Ouma Bettie is op 1 April 1930 in die destydse Rhodesië as die oudste van 15 kinders gebore en woon die afgelope jare in die Vaaldriehoek

SASOLBURG. – Een van die oudste maar ook aktiefste inwoners van die dorp, mev. Bettie Esterhuizen, het haar 92ste verjaardag verlede maand saam met 77 van haar familielede gevier. Dit het haar vyf kinders, kleinkinders, agterkleinkinders en selfs agter-agterkleinkinders ingesluit.

Bettie is op 1 April 1930 in die destydse Rhodesië as die oudste van 15 kinders gebore. Sy en haar oorlede man, Hendrik, het in 1967 na Suid-Afrika geïmmigreer, waar hy tot met sy aftrede by Eskom gewerk het. Hy is in Julie 1992 op ouderdom van 67 oorlede. Van hul vyf kinders woon die oudste seun in Vanderbijlpark, twee dogters in Sasolburg, een dogter in Delmas en die jongste seun in Engeland. Buiten vir die jongste seun is almal al afgetree.

Bettie is steeds selfversorgend en woon in ‘n tuinwoonstel by haar dogter Sarie en gesin.

“Ek is baie geseënd met goeie gesondheid. My gehoor is nie meer so goed nie maar ek sien nog goed. Ek is baie lief vir kosmaak, bak en konfyt kook en is ook lief daarvoor om die kinders met lekker etes te onthaal. Ons is ‘n baie hegte familie,” sê Bettie.

Sy gesels graag deur middel van WhatsApp met haar nageslag en brei gereeld truie vir vriende, familie of welsynsinstansies op haar breimasjien.

Vir verlede maand se kuier het haar nageslag uit Sasolburg, Vanderbijlpark, Pretoria, Witbank, Kriel, Steelpoort, Benoni en selfs Engeland gekom om in die familiefees, wat op haar kleinseun se hoewe in Delmas gehou is, te kom deel.

“Dit was ‘n wonderlike, geseënde dag gewees,” sê Bettie.

 

Ouma Bettie Esterhuizen (met die pienk pakkie en hondjie op haar skoot) saam met haar familielede wat van heinde en ver gereis het om haar 92ste verjaardag saam met haar te vier.

 

Mev. Bettie Esterhuizen (middel, voor) saam met haar vyf kinders. Agter van links is Danie Esterhuizen (Sasolburg), Betsy Wucherpfennig (Sasolburg) en Rudi Esterhuizen (Engeland). Voor langs Bettie is Sarie Coombes ( Sasolburg) en Dixie Bresler (Delmas).

********************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button