Groot fees ten bate van behoeftiges
Hou Saterdag, 28 Mei 2022 opsy vir 'n lekker musiekfees.
VANDERBIJLPARK. – Die niewinsgewende organisasie, We care for you, hou op Saterdag, 28 Mei 2022 ‘n groot fondsinsamelingsfees ten bate van minderbevoorregtes in Vanderbijlpark.

Verskeie kunstenaars gaan by Faraday Pub & Grill bymekaarkom om feesgangers te vermaak.
Toegang is gratis, maar donasies word gevra in die vorm van nie-bederfbare voedsel, klere, komberse of kontant. Daar sal ook ‘n vleispak ter waarde van R1 000 en ander pryse uitgeloot word.
Petra van Zyl van We care for you het gesê: “Die plan is om aankope te doen met die geld wat ons insamel, en dan die kruideniers wat ons insamel, by dit te sit en aan gesinne en bejaardes uit te deel, volgens behoefte.
“Veral vanaf die 10de van elke maand is die nood baie groot. Komberse en klere sal dadelik, aan veral bejaardes en kinders, uitgedeel word.”
Sy het verder laat weet dat mense kos soos two-minute noodles, kitssop, blikkies vleis en blikkies vis, eiers, 1 kg mieliemeel, koekmeel, pakkies suurdeeg, margarine, olie, tee, suiker, koffie, poeiermelk, sout, brood, blikkies gemengde groente, baked beans, tamatie en uiesmoor kan skenk.
Die dag se verrigtinge begin om 12:00 en sal tot laat duur.
Vir verdere navrae kontak vir Petra by 062 751 7670 of Faraday Pub & Grill by 016 100 1583.
