Moenie vir Liewe Heksie misloop nie!
Kom lag saam en deel in die pret. Sondag, 29 Mei 2022 by die ERT in Sasolburg.
SASOLBURG. – Oh Griet! Hier kom ‘n ding. Liewe Heksie kom kuier Sondagmiddag, 29 Mei om 14:00 in die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg!

Bring al die jong maats en almal wat op Verna Vels se Liewe Heksie stories grootgeword het.
Dit gaan ‘n lekkerte wees soos min. Baie lag en hope pret, want Heksie trek sommer die gehoor ook in by haar avonture.
Die saak staan so: Liewe Heksie het besluit dis tyd dat sy op haar besem klim en die land verken. Sy stop so hier en daar sodat haar besem bietjie kan rus.
Dan bied sy ook sommer ‘n vertoning aan: Liewe Heksie en die Rolskaatse.
Haai, maar sy het bietjie vergeet van verjaardae en daarom vier sy haar “eerste” verjaardag vanjaar sommer ‘n paar keer.
Met haar persente, ‘n biki-kini en rolskaatse beloof sy om Blommeland nog kleurryker te maak.
Maar ai, die groot grillerige Geelheks probeer haar vieringe in die (rolskaats)wiele ry.
Levinia vra mooi: “Asseblief klein en groot kaboutervriende van Menseland, help my dat ons al die stoute karnallies kan verwilder.”
Verna Vels se immergroen verhale word verlewendig met baie gehoordeelname en voortsnellende aksie.
Margit Meyer-Rödenbeck is die “ultimate”, nimlike Heksie en die uiters talentvolle Deon van Zyl draf die rolle van Karel Kat, Geelheks en Koning Rosekrans lag-lag kaf.
‘n Aanbieding vir die hele gesin. Besprekings kan by die Etienne Rousseau Teater gedoen word: WhatsApp 063 217 5147 of aanlyn by www.Ltickets.co.za.
Toegang is R100 vir kinders en R120 vir volwassenes.

