Liewe Heksie het kom kuier!
Pure pret wat die jongklomp baie geniet het!
SASOLBURG. – Dit was ‘n belewenis. Die teater was amper vol. Almal was daar, van kleuters tot by hul oupas en oumas.
Die afwagting was voelbaar in die teater. Terwyl die mense nog ingestroom het, het ou bekende kinderliedjies gespeel, van Heidi tot by Pinnochio.

Natuurlik ook Liewe Heksie se kenwysie. Asems is hoorbaar ingetrek toe die einste Levinia Heksie haar verskyning in die teaterdeur gemaak het en op die trappies stelling ingeneem het.
Sy het van die eerste oomblik af die gehoor aan haar voete gehad.
Koning Rosekrans en Karel Kat was ook groot gunstelinge onder die jongelinge, maar lief vir die ou Geel Heks wat die Silwer Roos wou steel was hulle nie baie nie.
Margit Meyer-Rödenbeck (as Liewe Heksie) en Deon van Zyl (as Koning Rosekrans, Karel Kat en die Geel Heks) het uitmuntende vertonings gelewer.
Vir ‘n wyle het oud en jonk vergeet van al die dinge en geite van die mense-wêreld en het die verhoog Blommeland geword. Daar is saamgetel, gesing en selfs gedans.
Liewe Heksie en die Rolskaatse is ‘n moet sien vertoning vir alle liefhebbers van die vergeetagtige heksie en ook vir ‘n nuwe geslag wat meer van haar manewales leer.
Knap gedaan aan almal wat op die produksie werk. Die klank en beligting was soos gewoonlik uit die boonste rakke.
Dankie aan die Etienne Rousseau Teater wat sulke uitstekende vermaak aanbied.
Ek is net spyt ek het nie my Liewe Heksie boek saamgevat vir Levinia om te teken nie, maar ek het bietjie gevergeet.