Vaal se eerste rolprentster sterf op 87
Met haar terugkeer na Suid-Afrika was Lindea ‘n tyd lank betrokke by Sasol en Natref se openbare betrekkinge, waar sy as gasvrou en toerleier vir internasionale hooggeplaastes opgetree het.
SASOLBURG. – Die Vaaldriehoek se eerste volwaardige rolprentster, mev. Lindea Bosman de Beer, is verlede week in die ouderdom van 87 na ‘n reeks gesondheidsterugslae in Pretoria oorlede.
Lindea, wat ‘n groot deel van haar volwasse lewe in die Vaaldriehoek gewoon het, se loopbaan het in die 1950’s as skoonheidsdeskundige en grimeerkunstenaar op rolprentstelle begin voordat sy deur rolprentregisseur Elmo de Witt raakgesien is.
In 1959 is sy saam met Ponie de Wet, Tessa Laubscher en Gabriel Bayman ingesluit in die rolverdeling van Satanskoraal, ‘n Jamie Uys-filmproduksie waarvan De Witt die regisseur was. Dié avontuurdrama het langs die Mosambiekse kus afgespeel en was die eerste Suid-Afrikaanse fliek waarvan ‘n groot deel onder water geskiet is.
Lindea se skoonheid en grasieuse liggaamsbou het haar in daardie jare ook ‘n gesogte model vir groot name in die bedryf gemaak. Sy het onder andere ‘n tyd lank in Engeland deurgebring om modelwerk vir die ontwerper Victor Stiebel te doen, wat destyds klere vir die Britse koningshuis en uniforms vir die Women’s Royal Air Force (WRAF) ontwerp het.
Met haar terugkeer na Suid-Afrika was Lindea ‘n tyd lank betrokke by Sasol en Natref se openbare betrekkinge, waar sy as gasvrou en toerleier opgetree het vir internasionale hooggeplaastes soos die destydse prins van Persië, Shah Reza Pahlavi van Iran, tydens hul besoeke aan die land.
In later jare was sy ‘n tuisteskepper en ma vir haar en haar man, Edmund de Beer, se dogter, Filistéa, wat in Vanderbijlpark en Sasolburg grootgeword het. Lindea het mettertyd na die Rand verhuis om nader aan haar dogter en dié se gesin te wees.
Na die afsterwe van haar dogter in 2017 weens kanker, het Lindea na Prestige Park in Pretoria verhuis, waar sy tot met haar dood gewoon het. Sy was tot in haar gevorderde jare bekend as ‘n besonder sjarmante en grasieuse vrou.
Volgens ‘n woordvoerder van haar gesin het sy verlede Dinsdagoggend in ‘n koma gegaan nadat sy die afgelope tyd gesondheidsprobleme ondervind het. Sy het later die dag stil heengegaan met haar kleinseun en ‘n paar van haar naaste vriende langs haar sterfbed. Sy word buiten haar kleinseun, ‘n sakeman van Kaapstad, ook oorleef deur ‘n kleindogter wat tans in die buiteland werk.



