News

Teixeira se boodskap aan Midvaal-kiesers: ‘Stem eers, dan kan julle braai’

Midvaal se uitvoerende burgemeester het Woensdag sy kruisie by Laerskool Risiville gaan trek.

MEYERTON – “Ek wil hê mense moet eers gaan stem en daarna kan hulle braai.”

Dit was die boodskap van Peter Teixeira, DA-burgemeesterskandidaat en huidige uitvoerende burgemeester van Midvaal, toe hy Woensdag (4 November) sy kruisie by Laerskool Risiville in Wyk 1 getrek het.

Hy was saam met sy vrou, Refiloe, en hul 19-jarige dogter, Amber, daar. Vir Amber was dit die eerste keer dat sy kon stem.

Die gesin het soos die ander kiesers in die ry gaan staan. Gelukkig het die ry vinnig gevorder en kon hulle vinnig hul kruisie trek.

Teixeira het ná die tyd met Vaalweekblad gesels en ‘n beroep op inwoners gedoen om nie die verkiesing mis te loop nie.

Peter Teixeira saam met sy vrou, Refiloe, en hul dogter, Amber, nadat hulle Woensdag by Laerskool Risiville in Meyerton gestem het. Foto: Christiaan Cloete

Volgens hom gaan plaaslike verkiesings oor sake wat inwoners elke dag raak, soos elektrisiteit, water, paaie en sanitasie.

Hy meen die DA het die afgelope jare goeie vordering in Midvaal gemaak. Hy het onder meer verwys na vullisverwydering deur die jaar, betroubare elektrisiteits- en watervoorsiening, padinstandhouding en pogings om beleggings na die gebied te lok.

Hy erken egter dat daar steeds werk is om te doen.

Indien hy weer as burgemeester aangewys word, sal landelike gebiede volgens hom meer aandag kry. Klagtes oor die stand van grondpaaie, kragonderbrekings en infrastruktuur is van die sake wat aandag sal moet kry.

Teixeira dien sedert November 2021 as uitvoerende burgemeester van Midvaal.

Kyk die video:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button