Tydelik – ‘n blywende treffer vir Vaal se Harry
Harry Broersma - onthou die naam, ons gaan nog baie van hierdie jong kunstenaar hoor en sien.
VANDERBIJLPARK. – Plaaslike kunstenaar, Harry Broersma, se tweede enkelsnit, Tydelik, het onlangs die luggolwe getref.
Nadat sy eerste enkelsnit, Liefde soos dit, goed gevaar het, het hy hierdie keer ook ‘n video van Tydelik vrygestel.

Die video is al op Ontbytsake gespeel en is reeds op verskeie Afrikaanse speellyste opgeneem. Harry sê in Tydelik deel hy ‘n baie kwesbare tyd in sy lewe.
“Mense dink die liedjie gaan oor ‘n verhouding wat verby is, maar dis meer as dit. Ek was in ‘n toksiese verhouding en ek wou haar regtig help, maar ek kon nie. Ek het die lied geskryf in die hoop dat sy, en elkeen wat deur donker tye gaan, weet dis net tydelik,” vertel hy.
Hy hoop dat mense wat die lied luister sal besef hulle is soveel meer as hul tydelike omstandighede. “Jy weet, hartseer en moeilike tye gaan ook verby. Alles is net tydelik.”
Musiek is Harry se passie. “Ek dink altyd aan musiek. Dit het al gebeur dat ek die radio in my motor afsit vir iets en eers lank daarna agterkom dis te stil in die motor. Dan het ek nog die heeltyd musiek in my kop gehoor,” lag hy.
Hy voel mense onderskat hoe belangrik musiek is en hoe hard musikante moet werk om hul passie te kan uitleef. “Juis daarom het ek respek vir alle musikante en sangers, ek weet wat dit verg.”
Harry het met sy musiekloopbaan begin toe hy nog aptekerswese aan die NWU in Potchefstroom studeer het.
Opsigself ‘n moeilike kursus wat baie tyd in beslag neem. “Mense wou altyd weet hoe ek my studies en my musiek saam gedoen het, dan het ek geantwoord: ‘As jy ‘n liefde het vir iets, sal jy tyd maak daarvoor,’” beduie hy.
Hy het intussen sy graad verwerf en doen tans sy internskap by een van die groot apteke in Vanderbijlpark.
“Ek is dankbaar dat my kollegas en bestuurder verstaan dat ek ook aan my musiekloopbaan wil werk.”
Hy en sy band het hierdie jaar al verskeie optredes gehad. Hulle het onder meer vir Leandré, Spoegwolf en Riaan Benade geopen en het ook ‘n draai by die KKNK gemaak.
Alhoewel Harry ‘n groot sagte plek vir die Afrikaanse groep, Spoegwolf het en verskeie mentors in die bedryf het, wil hy ook probeer om sy eie spore te trap.
“Ek is nie hier om iemand anders te na-aap nie. Ek wil ‘n verskil maak en bowenal wil ek my liefde vir musiek behou. Soos ek altyd sê: ‘In die oë van die regte mense sal jy genoeg wees’,” glimlag hy.
“Almal kort iemand om vir hul te sê dit gaan okay wees, en dis wat ek met my musiek wil doen.”
Gaan luister en kyk gerus na Harry se Tydelik op YouTube en sluit sommer by sy kanaal, Harry Broersma, aan.
