Dit was ‘n uitmuntende Spaanse dans vertoning
Ons is bevoorreg om talentvolle mense soos Carli Olivier en haar dansers in die Vaal te hê. Dankie ook aan die ERT wat vir ons topgehalte produksies aanbied.
SASOLBURG. – Die gewildheid van Spaanse danse in die Vaaldriehoek is weer bevestig toe Carli Olivier en haar dansers saam met die meester kitaarspeler, James Grace by die Etienne Rousseau Teater opgetree het.
Die spesiale vertoning is op Sondag, 12 Junie gehou en die teater was bykans vol.

Die vertoning het ou gunstelinge asook splinternuwe verwerkings ingesluit. So hier en daar is daar ook ‘n stukkie uit hul nuwe vertoning, Romanza, gegee.
Die vertoning het begin met Carli se meesterlike vertoliking van The Swan – Sain-saëns. Opgevolg deur die dramaties Paseo deur Eduardo Sainz de la Maza.
James Grace se kitaarspel het betower, saam met die dansers in hul swart rokke en sluiers. Daarna het die nommers vinnig opmekaar gevolg.
Compañia Sophia het hul talente met elke nommer ten toon gestel. Die gehoor is verstom deur hul vindingryke gebruik van waaiers, ‘n tjalie en natuurlik die kastanjette.
Die voetstamp het al hoe vinniger geword en die musiek vroliker. Na ‘n kort pouse is die tweede helfte ingewy met La Torre Del Oro. Opgevolg deur nog ‘n meesleurende solo van James Grace.
Daarna het Carli ‘n solo tango gedans wat die gehoor aan haar voete gehad het.
Die atmosfeer het nog meer feestelik geword toe die dansers in hul nuwe Spaanse sleeprokke, of Bata De Colas hul verskyning gemaak het.
‘n Mens kan sien hulle geniet elke oomblik daarvan en kan net hoed afhaal vir hul uitmuntende dansvaardighede.
‘n Lekker verrassing was toe Georgina Jacobs en van die jonger dansers ook op die verhoog verskyn het om mee te doen aan die laaste twee nommers.
Soos die jonge dame (seker so 9 jaar) wat voor ons gesit het na die tyd opgemerk het, “dit was nou ‘n mooi konsert”, met haar boetie wat agterna koor: “Ja, ek is nou spyt ek het nie Liewe Heksie kom kyk nie.”
Al die choreografie is deur Carli Olivier behartig en die musiek deur James Grace. Die ERT kan ook trots wees op hul klank-en beligtingspan wat uitstaande werk doen.
James Grace en die Compañia Sophia dansers gaan eersdaags by Theatre on the Bay optree in Kaapstad en daarna bring hul, hul nuwe vertoning, Romanza Gauteng toe vir optredes by die Pieter Toerien Teater by Monte Casino.
Volg gerus die Facebookblad @RomanzaProduction vir meer inligting.
