Bly lag, selfs as die lewe druk, is Nico se raad
Sy loopbaan het ‘n paar jaar gelede ‘n onverwagse draai gemaak, met gevolg dat hy geen pensioen opgebou het nie. Lagfabriek moet nou help om vir hom ‘n pensioen te lewer.
Baie mense ken Nico Oosthuysen as ‘n uitstekende dosent wat al dekades lank die geheime van elektrisiteit en elektronika aan studente van die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT) oordra. Baie ken hom ook as ‘n gebore storieverteller wat ‘n aangrypende verhaal uit selfs die eenvoudigste gebeure kan optower.
Nou het Nico talle van die staaltjies wat hy deur die jare versamel het, in ‘n elektroniese boek, Lagfabriek, geboekstaaf om verkoop te word aan almal wat ‘n bietjie gesonde vrolikheid nodig het.
“Dit is in ‘n groot mate my outobiografie, maar daar is ook baie ander inligting. Ek skryf oor alles wat in my lewe gebeur het waaroor mens kan lag of glimlag. Ek onthou net die goeie; ek vergeet en vergewe alles wat negatief is,” sê hy.
Daar was dwarsdeur sy lewe genoeg om oor dankbaar en vrolik te wees, maar Nico het ook sy deel aan hartseer gehad. Die laagtepunt was toe sy geliefde vrou, Hannetjie, terminaal siek geword het en Nico op 27 Augustus 2019, na ‘n gelukkige huwelik van 42 jaar, alleen agtergelaat is.
Hannetjie, wat die suster van die gevierde skrywer wyle prof. JC (Jaap) Steyn was, was self jare lank ‘n rubriekskrywer vir Vaalweekblad. In haar laaste jare het sy saam met Nico besluit om Lagfabriek te skryf, dit op hul Risograph-drukker te druk en bind, en per pos te verkoop vir ‘n ekstra inkomste.
“Ons het te lank gedraai en toe word sy baie siek, uiteindelik terminaal siek, maar terwyl sy nog by haar volle positiewe was, het ons besluit dat ek met die boek sal voortgaan,” sê Nico. Van Hannetjie se bydraes is ook onder haar naam in die elektroniese boek ingesluit.
Dit bestaan uit verskeie vertellings oor Nico se kinderdae as plaaskind en skoolseun in die Karoo, sy studentejare aan die Universiteit van Stellenbosch, sy Lugmagdae in Saldanhabaai, sy werksjare in ander dele van die land, en verskeie staaltjies oor die Vaaldriehoek se mense.
“Die boek bevat net ‘skoon’ grappies, daarom kan jong kinders dit ook lees en geniet,” sê Nico.
Sy loopbaan het ‘n paar jaar gelede ‘n onverwagse draai gemaak en hy was ‘n tyd lank weg van die VUT, met gevolg dat hy geen pensioen vir sy oudag opgebou het nie. Lagfabriek, wat in elektroniese formaat versprei word, moet nou help om vir hom ‘n pensioen te lewer.
Nico is tans weer op ‘n nie-vaste basis aan VUT verbonde en is nou op die ouderdom van 74 besig met sy doktorsgraad. Ondanks die swaar van die afgelope jare is daar nou ook weer vreugde: Hy het ‘n nuwe maatjie gevind wat sy liefde vir die lewe en lag met hom deel.
* Bestel Lagfabriek gerus per e-pos teen R200 by nicoo3669@gmail.com, of stuur ‘n Whatsapp na Nico by 071 137 0392 vir meer inligting en sy bankbesonderhede.


************************************************************************************
