EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Op 80 sprei Johan Breedt weer vlerke!

“Dit was ‘n groot ervaring vir ons pa en ook vir ons kinders wat dit saam met hom kon beleef,” sê sy seun, ook Johan.

VANDERBIJLPARK. – Jarelange inwoners wat mnr. Johan Breedt (80) ken, sal saamstem dat dié sakeman wat Elma Airconditioning sedert 1972 tot ‘n groot en bekende onderneming uitgebou het, legendariese status in die dorp het.

Nie almal weet dat mnr. Breedt in sy jonger jare ook ‘n ywerige loods met sy eie ligte vliegtuig was nie. Soos wat sy sakeonderneming meer van sy tyd in beslag geneem het, het tyd vir vlieg minder geword en het hy sy geliefde Piper 180 in die 1990’s verkoop.

Met die liefde vir vlieg steeds bruisend in sy are het hy maar altyd gewonder wat van sy vliegtuig geword het. Met dié dat Elma Airconditioning vanjaar sy 50ste bestaansjaar vier en mnr. Breedt in Mei 80 geword het, het sy kinders besluit om dié mylpale te herdenk deur die vliegtuig te probeer opspoor sodat hul pa weer daarna kon gaan kyk.

Na heelwat navorsing is die vliegtuig in Port Alfred opgespoor waar dit deur 43 Air School vir opleiding gebruik word. Mnr. Attie Niemand, uitvoerende bestuurshoof van die vliegskool, en sy bestuurspan het ingestem dat mnr. Breedt en sy familie ‘n dag by hulle kon kom deurbring sodat hy weer sy vliegtuig kon sien. Maar nog meer: Hy het ook ‘n kans gekry om saam met ‘n baie ervare instrukteur, Ruan Kruger, in die vliegtuig te vlieg en ‘n rukkie self agter die kontrolepaneel te sit.

“Dit was ‘n groot ervaring vir ons pa en ook vir ons kinders wat dit saam met hom kon beleef,” sê sy seun, ook Johan.

Mnr. Breedt het Elma Airconditioning in 2009 aan sy ander seun, Hennie, verkoop, en reis nou graag met ‘n woonwa deur die land saam met sy vrou, Nakkie. Hy is nog sterk en gesond en slaan nog met gemak hul woonwatente self op. Hulle is tans juis op ‘n maandlange toer in die Kruger-wildtuin,

Mnr. Breedt bly tussendeur ook baie besig met die installering van spesiale lugversorgers vir woonwaens – sy eie patent – waarvoor woonwa-eienaars van reg oor die land na hom toe kom.

Daar wag in September vanjaar nóg ‘n groot mylpaal wanneer die Breedt-egpaar, as hulle gespaar word, hul 60ste huweliksherdenking gaan vier. Die egpaar het vier kinders, tien kleinkinders en drie agterkleinkinders.

 

Mnr. Johan Breedt agter die vliegtuig se kontrolepaneel.

 

Mnr. Johan Breedt (80).

Mnr. Johan Breedt (80) by die Piper 180 wat voorheen aan hom behoort het.

***********************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button