EntertainmentLifestyleNews

Candy Benson – 7 Dae in die Somer

“Die liedjie laat my hart glimlag, want ek weet ek het ’n tweede kans gekry om weer deur al vier seisoene te leef,” sê Candy.

Ondanks die harde klap wat Covid-19 die blonde-borrel sangeres Candy Benson toegedien het, is sy terug met ’n spiksplinternuwe enkelsnit 7 Dae in die Somer wat nie net spreek van genade nie, maar ook van liefde en deursettingsvermoë.

Dit is ook ’n liedjie wat ons laat terug verlang na die somer, veral as ons onder ons wolkomberse lê en bibber…

Sy het dié enkelsnit, wat ook een van haar eie pennevrugte is, al verlede jaar opgeneem, maar kort voordat sy dit kon vrystel, is sy met Covid-19 gediagnoseer. Daarna het sy drie maande in die hospitaal deurgebring, dié virus het ook haar pa se lewe geëis en sy moes van vooraf weer loop.

Candy het egter nie toegelaat dat die Covid-19-monster haar lewe vernietig nie. Bykans ’n jaar later het sy weer die mikrofoon opgetel en begin sing.

“Dit het eintlik net toevallig gebeur,” vertel sy. Sy was op ’n passasierskip toe die sanger Tony Campbell haar uit die bloute bel en vra of sy kans sien om daardie aand op te tree. “Ek was baie onseker, want ek ek het net 57% longkapasititeit en my grootste vrees was dat ek nie meer ’n noot sou kon sing nie.”

In tipiese Candy aan- en uithou styl, het sy vir twee ure geoefen en later die aand twee liedjies gesing. “Ek sal sê halfpad deur die eerste liedjie toe gaan daai senuweeagtigheid weg.  Dit was vir my absoluut fantasties. Ek kon weer sing.”  Op Moedersdag het sy ook wéér vir die eerste keer ’n volledige vertoning aangebied.”

Met 7 Dae in die Somer betree sy ‘n nuwe era in haar eie musikale ontwaking. Haar vorige enkel snitte is goed deu rplaaslike-en aanlyn radiostasies ontvang. Van haar Afrikaanse- en Engelse enkelsnitte het op radio stasies se treffer parades geboer.  Sy is ook al ’n paar keer vir ’n Ghoema-toekenning genomineer, maar dit is asof sy nou met die enkelsnit wil sê: “Dankie dat ek leef.”

7 Dae in die Somer se betekenis het ook, na haar Covid-19-stryd, verander. “Die liedjie het oorspronklik gehandel oor vakansieliefde en die vlindergevoel van verlief wees,” vertel sy, “na my lang pad met Covid-19 het die liedjie vir my ’n ander betekenis gekry – ’n dieper betekenis. Die liedjie handel nou vir my oor my liefde vir God. Hoe enigiets moontlik is deur Hom en hoe Sy genadige hand in myne gepas het. Hy het my aangemoedig om te lewe. Sewe dae of sewentig jaar sal nooit genoeg wees om dankie te sê vir my lewe nie.”

Candy vier ook dié jaar haar 27ste verjaarsdag in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Sy was net drie jaar oud toe sy vir die eerste keer haar mondjie oopgemaak en begin sing het. ’n Youtube-video waarop sy, as kleuter, I will always love you, sing het al verskeie unieke trefslae gekry.

Binne ’n paar jaar het sy haar self gevestig as een van die bekendste (en gewildste) stemme in die Suid-Arikaanse musiekbedryf.  Sy is ook ’n veelsydige sangeres wat nie net met gemak tussen verskeie note kan rond beweeg nie, maar ook in verskillende genres en style kan sing.

7 Dae In Die Somer is deur Vaughan Gardiner en Hugo Ludik van Muse Productions opgeneem en vervaardig.

“Die liedjie laat my hart glimlag, want ek weet ek het ’n tweede kans gekry om weer deur al vier seisoene te leef,” sê Candy.

 

***************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button