EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Die Vaal se Imogen wen Miss Teen SA!

Imogen is nie net ‘n mooi gesiggie nie. Sy beplan haar toekoms doelgerig terwyl sy haar lewensmotto, om goed te doen aan ander, ten volle uitleef.

MEYERON. – ‘n Omgeehart van goud, verpak in ‘n lieflike uiterlike. Dit is Imogen van Heerden, wat verlede maand met die titel as Miss Teen South Africa weggestap het.

Imogen het van 2 tot 4 Junie deelgeneem aan die Miss Teen South Africa Pageant, wat deur Beyond2000 en die South African Championships of Performing Arts (Sacopa) aangebied is. Sy kwalifiseer ook om in Suid-Afrikaanse kleure aan die model-afdeling van die World Championships of Performing Arts deel te neem, wat volgende jaar Julie in Los Angeles plaasvind.

Imogen het haar laerskoolloopbaan as hoofdogter aan die Laerskool Risiville voltooi. Sy is tans in graad 11 in Teneo, ‘n aanlynskool, en sê sy geniet dit vreeslik baie. Haar stokperdjies sluit modelwerk, gym en drama in en sy was ook nog altyd aktief betrokke by netbal en atletiek.

Sy het haar opleiding by Chantenique-modelskool begin en haar model-onderwysdiploma intussen by Anaquin Finishing, Modelling & Pageantry Academy gedoen om modelklasse te kan aanbied. Sy besit nou haar eie modelskool met die naam Anaquin Meyerton, wat deel van ‘n franchise is.

Pa Jaco en Ma Lelani van Heerden is natuurlik baie trots op hul pragtige dogter en ondersteun haar al van kleins af in al haar talente en alles wat sy aanpak.

Imogen doen graag welsynswerk en het onder andere verlede maand ‘n toy run aangebied om speelgoed vir Lerato-kinderhuis in Meyerton in te samel. Sy wil gedurende haar ampsjaar ook aandag daaraan gee om mense meer bewus te maak van depressie onder kinders en tieners, en waar hulle in sulke gevalle hulp kan kry.

Imogen is nie net ‘n mooi gesiggie nie. Sy beplan haar toekoms doelgerig terwyl sy haar lewensmotto, om goed te doen aan ander, ten volle uitleef. “Goedhartigheid is die taal wat die dowes kan hoor en die blindes kan sien,” sê sy oor haar lewensuitkyk, waarmee sy graag die harte en omstandighede van almal om haar ten goede wil help verander.

 

Imogen van Heerden, wat vroeër die maand tot Miss Teen South Africa verkies is.

 

 

***************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button