EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Voormalige Mej. Vaal ding die naweek mee om Miss Grand-kroon

Haar lewensbeskouing, selfs wanneer dinge moeilik gaan, is: “Keep going, ‘cause you never know who you might be inspiring”

MEYERTON. – Die jaarlikse Miss Grand Pageant word vanjaar vereer met die deelname van twee pragtige Midvaalse kandidate, wat vanaand (Vrydag8 Julie) en moreaand voor die beoordelaars se kritieke oë te staan gaan kom.

Vaalweekblad het verlede maand berig dat die talentvolle aspirant-onderwysers uit Midvaal, Bianca Bezuidenhout, haar beste voetjie by dié kompetisie gaan voorsit. Nog ‘n skone dame uit die Vaaldriehoek wat ‘n potensiële aanspraakmaker op die kroon is, is die mooi slimkop Franzé Janse van Rensburg, reeds aan baie bekend as Mej. Vaal 2020/21.

Die elegante Franzé, ‘n vyfde-jaar student in veeartsenykunde, was maar 2 jaar oud toe sy saam met haar ouers uit Mosselbaai na die Vaaldriehoek verhuis het, waar hulle tans in Henley-on-Klip woon. Sy beskryf haarself as ‘n meisie wat nie bang is om haar hande vuil te maak nie, maar daarvan hou om goed te lyk terwyl sy dit doen. Sy het eers na skool aan modelkompetisies begin deelneem, met haar eerste groot deurbraak toe sy as eerste prinses in Mej. Junior Suid-Afrika aangewys is. In 2020 is sy as Mej. Vaal gekroon en nou vestig sy haar oë op die Miss Grand SA-titel.

“Ek is baie ongewonde! Dit is beslis die grootste kompetisie waaraan ek al deelgeneem het en dit verg vreeslik baie voorbereiding, maar ek geniet elke oomblik in aanloop tot die groot aand. Modelwerk gee my ‘n geleentheid om my liefde vir mode en skoonheid uit te leef terwyl ek aan my droomberoep as veearts werk, al is dit wêrelde uit mekaar,” sê Franzé.

Sy het vanjaar reeds twee groot gemeenskapsprojekte aangepak. Die een was “Making a difference in 23 lives for my 23rd birthday”, waarmee sy kos en geld ingesamel het en 23 kospakkies opgemaak het, wat onder minderbevoorregtes uitgedeel is. Sy het ook hondekos vir Vaalpets ingesamel, wat sy na haar eksamen aan de organisasie gaan oorhandig en ook tyd met die honde gaan spandeer. Sy het ook ‘n sagteplekkie vir ‘n kinderhuis en kuier graag saam met die kleingoed.

“Dit is vir my belangrik om lang paaie saam met organisasies te stap en verhoudings te bou wat werklik ‘n langtermyn impak gaan maak,” sê sy.

Franzé is ‘n sterk ondersteuner van die Miss Grand Pageant se standpunt teen oorlog en wreedheid. As deel hiervan wil sy groter bewustheid bring oor die ‘oorlog’ wat die huidige generasie tans op die gebied van geestesgesondheid voer, en hoe almal van ons op een-of-ander manier ‘n impak kan hê op die gemoed van elke mens met wie ons in aanraking kom.

“Die Pageant is ‘n ongelooflike platform om ‘n boodskap oor te bring, daarom het ek ‘n veldtog begin met die naam ‘Cultivating Kindness’, wat ek wil gebruik om deur klein blyke van omgee ‘n positiewe inpak op mense se geestesgesondheid te maak. Ek wil ander ook inspireer om dieselfde te doen.”

In haar vrye tyd bestee sy graag tyd saam met haar gesin en ‘n spesiale man in haar lewe, sowel as saam met haar miniatuur Schnauzertjies, Cooper en Riley.

Sy beoog om mettertyd as veearts te spesialiseer in perde en wil daarna met van die land se top sportperde werk. Sy sal ook graag by die mode- en skoonheidsbedryf betrokke wil bly en na die Mej. Suid-Afrika-kroon mik.

Haar lewensbeskouing, selfs wanneer dinge moeilik gaan, is: “Keep going, ‘cause you never know who you might be inspiring”.

“Ek glo ‘n groot deel van my lewensdoel op aarde is om mense te inspireer, om hul drome na te jaag en 100% hulself te wees,” sê Franzé.

Franzé Janse van Rensburg, een van die kandidate wat die Vaaldriehoek komende naweek in die Miss Grand Pageant gaan verteenwoordig.

 

Franzé, ‘n toekomstige veearts, besig met een van die diere waarvoor sy so lief is.

 

******************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button