Een man, twee vroue – hier kom moeilikheid!
Die ekonomie druk, Eskom speel woer-woer met ons en die petrolpryse laat ons ween. Dis tyd om te lag, lekker te lag. Kom lag saam volgende week by die ERT in Sasolburg - My Vrou se Man se Vrou!
SASOLBURG. – Die Vaaldriehoek is bevoorreg. Die Etienne Rousseau Teater bied van die beste vertonings in die land aan.
Op 20 en 21 September is dit tyd om die lagspiere te prikkel met die klug, My vrou se man se vrou deur Lefra Produksies.

Dis geskoei op Ray Cooney se Run for your Wife wat al langer as 25 jaar in Londen se West-End opgevoer word.
Kom lag saam oor die verknorsing waarin die hoofkarakter, John Smith (meesterlik vertolk deur Phillru van Achterbergh homself in bevind.
Die man het twee vroue wat baie naby aanmekaar bly. Alles gaan goed, maar ’n ongeluk en ’n verkeerde adres veroorsaak ’n kettingreaksie en John moet bontstaan om te keer dat sy geheim op die lappe kom.
Om sake te vererger, moet hy sy nuuskierige bure, ’n vasberade joernalis en twee agterdogtige polisiemanne ontduik.
Soos John Smith self sê: ““Ek is John Smith. Taxibestuurder. Ek is lief vir my werk. Maar die een ding waarvoor ek liewer is, is my vrou Mary. O ja… en my vrou Barbara.
“Ja, ek het twee vrouens. Alles het so goed gegaan, tot ek een aand ‘n hou teen die kop en ‘n ongeluk met my taxi gehad het. My skedules loop heel deurmekaar met Mary en Barbara. Gaan hulle van mekaar uitvind?”

Besprekings kan gedoen word by www.LTickets.co.za. My Vrou se Man se Vrou word met die trotse ondersteuning van RSG, Crown National, die trotse tuiste van Six Gun Grill, Hollywood Costumes, Van Loveren Wyne, Britz Couriers and Removals, Ambassador Execudrive en Lift aangebied.
Kom vind uit wat gebeur verder by die Etienne Rousseauteater vanaf 20 en 21 September 2022.
