Carlo Leone vier sy 60ste jaar in musiekbedryf
Deur die jare het Carlo, 'n inwoner van Vanderbijlpark, al die verhoog gedeel met van Suid Afrika se bekendste kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Lance James, Bobby Angel, Jody Wayne, Barbara Ray en vele meer.
VANDERBIJLPARK. – Die bekende Vaaldriehoekse sanger, Carlo Leone, vier vanjaar sy 60ste jaar in die musiekbedryf! Sy musiekloopbaan het reeds op die jong ouderdom van 12 op skool begin met sy orkes ‘The Vultures’, wat by al sy skoolmaats se partytjies opgetree het.
Na skool het hy vele suksesvolle orkeste gestig wat onder andere dans- en Boeremusiek, Rock-, Country-, Gospel- en Jazz-musiek gemaak het. Deur die jare het hy al die verhoog gedeel met van Suid Afrika se topkunstenaars soos Steve Hofmeyr, Dana Niehaus, Fanus Rautenbach, Johanna Fields, Dirkie Smit, Lance James, Clive Bruce, Kenny Oliver, Tommy Oliver, Billy Forrest, Tommy Dell, Barbara Ray, Gene Rockwell, Caroline du Preez, Vicky du Preez, Vangie Coker, Bobby Louw, Bobby Angel, Jody Wayne, Sally Vaughn en vele meer.
Gedurende sy loopbaan het hy tot dusver al nege CD-albums vrygestel, wat nie minder as 28 treffers vir hom opgelewer het. Hy het ook al 17 gesogte toekennings soos Country-sanger van die Jaar en Gospel-sanger van die Jaar ingepalm en is ‘n paar jaar gelede as een van RSG se Top 100 Afrikaanse sangers aangewys. Om sy 60ste jaar in die musiekbedryf te vier, tree Carlo elke Vrydagmiddag vanaf 16:00 tot 19:00 by J&B Pub and Grill Driving Range in Vanderbijlpark op om sy aanhangers te vermaak met sy opgewekte sang en sprankelende persoonlikheid. Niemand hoef dié lekker bederf mis te loop nie, want toegang is gratis!

***************************************************************************************************

