Komiese opera eersdaags by die ERT
Operaliefhebbers en almal wat sommer net lus voel vir bietjie komiese afleiding, maak reg vir L’elisir d’amore (Eliksir van die liefde).
SASOLBURG. – Opera liefhebbers kan naderskuif. Daar word vir die eerste keer in baie jare weer ‘n opera by die Etienne Rousseau Teater opgevoer. Die vertonings sal op 30 September en 1 Oktober plaasvind onderskeidelik om 18:00 en 14:00.

Gaetano Donizetti se opera L’elisir d’amore (Eliksir van die liefde) word deur Kaapstad Opera opgevoer.
Volgens ‘n mediaverklaring van Kaapstad Opera volg L’eliser d’amore met al die elemente wat gewilde vermaak kenmerk. Die romantiese komedie is boordensvol met onnutsigheid en lewenslus.
Die regie is waargeneem deur Magdalena Minnaar. Sy sê: “In ons weergawe van ‘Elisir’ het ons ’n Escher-agtige droomwêreld geskep waarin Adina getoets word deur Dulcamara, ’n waansinnige wetenskaplike en dokter met baie boekekennis.
“Hy is ’n alchemis met ’n Frankensteinagtige aanleg vir vernuftige chemie wat hy gebruik as eksperiment om die noodlot te manipuleer en sodoende ’n alternatiewe werklikheid te skep.
“Hy stuur Adina na die alternatiewe werklikheid waar twee uiteenlopende vryers haar hand probeer wen: die dierbare dog gemiddelde Nemorino en die bombastiese, aanmatigende Belcore.”
Met ’n sjarmante storielyn, so dun soos papier, is daar min twyfel dat dié verhaal op ’n gelukkige einde afstuur.
Voeg daarby Donizetti se verleidelike en liriese musiek asook skreeusnaakse komedie, en ’n mens het ’n wenresep vir al die plesierigheid wat ’n aand van geestige opera kan bied.
Die rolverdeling sluit in die Portoricaanse tenoor Juan Hernández as Nemorino, Brittany Smith as Adina, Conroy Scott as Dokter Dulcamara, Van Wyk Venter as Belcore en Linda Nteleza as Giannetta.

Hierdie opera het nes goeie wyn oor bykans twee eeue pragtig verouder. Sluit by ons aan vir ’n sopie en laat die towerkrag jou oorrompel. Maar wees gewaarsku! Dit is dalk net-net verslawend…
Kaartjies kan bespreek word by ertickets.com.
