Valies organiseer fees in Benoni
Die Glimlag Fees 2022 is om die draai en die twee feesdirekteure is albei inwoners van Vanderbijlpark.
As Vaaldriehoekers koppe bymekaar sit, dan kan mens weet êrens kom ‘n groot gedoente. Dis presies wat gebeur het toe Danie van Deventer en Ettienne Stolz begin gesels het om ‘n musiekfees te begin.
Danie sê oorspronklik het hy gedink aan so twee kunstenaars by ‘n vakansieoord, maar dit het vir hom gevoel hulle kan groter en beter.
Hulle het ‘n tweeledige doel met die fees gehad, naamlik om mense saam te trek om bietjie te ontspan en om ‘n bydrae vir liefdadigheid te maak.

Die Smile Foundation, wat hul daarop toespits om kinders met gesigsprobleme te help, het hul aan die hart gegryp en net daar is die Glimlag Fees gebore.
Die eerste fees is in 2019 gehou en was baie suksesvol. Daarna het die Covid-pandemie ongelukkig hul planne in die wiele gery. As feesdirekteure het hul besluit 2022 is dié jaar wat hul weer die mense gaan laat glimlag en fondse gaan insamel vir die Smile Foundation.
Daar is op Saterdag 1 Oktober 2022 besluit. Benoni Northerns Sport Klub het hul gronde beskikbaar gestel en van die land se beste sangers het gesê hulle sal daar wees.
Kunstenaars soos Francois van Coke, Matthew Mole, Die Heuwels Fantasties, Bernice West, Riaan Benade, Martin Bester en Pieter Koen sal van 11:30 af op die verhoog hul buiging maak.
Daar sal ook by die 200 stalletjies wees wat alles en nog wat gaan verkoop en genoeg kos om elke hongerkol te vul. Vir die dorstiges is daar ‘n biertent.
Pieter Koen en Henry Bruinette is die gashere (mc’s) vir die dag wat met hul nou al bekende spitsvondighede die trein op die spoor sal hou.
Kaartjies is te koop by ticketpro.co.za en by die hekke. Vir meer inligting besoek die Facebookblad @Glimlag Fees 2022. Meer inligting oor die Smile Foundation kan verkry word by https://smilefoundationsa.org/.
