Drie sterf in trompop botsing op Uitvlugt-pad
'n Motorfietsryer en sy vrou het Saterdagaand (26 Augustus 2023) in 'n botsing reg van voor met 'n motor op die Uitvlugt-pad gesterf. Hulle is glo opslag dood.
MEYERTON. – ‘n Motoris wat by die botsing betrokke is, is later op pad hospitaal toe dood.
Die ongeluk het naby die Midvaal-renbaan gebeur.
Volgens Dricus Oosthuizen, ‘n man wat reg oorkant die ongelukstoneel bly, het die ongeluk Saterdagaand omstreeks 18:00, net na sonsondergang, gebeur.
Vaalweekblad verstaan die bestuurder van ‘n Nissan Hardbody bakkie, wat in ‘n noordelike rigting onderweg was, het ‘n ander voertuig verbygesteek en in die pad van aankomende verkeer beland.
Die motorfiets, wat in ‘n suidelike rigitng onderweg was, het die bakkie reg van voor getref en met impak aan die brand geslaan.
Die motorfietsryer, Andre Schreiber, en sy vrou, Sonika Schreiber, is etlike meters deur die lug geslinger.
Volgens Oosthuizen is Screiber en sy vrou opslag dood.
“Hulle was besig om te brand. Ek het vir my vrou geskree dat sy water moet bring. Ek het die vlamme geblus,” vertel hy.
Oosthuizen vertel ook hoe hy die motoris uit sy bakkie getrek het.
Hy (die motoris) is glo op pad hospitaal toe oorlede.
*Hierdie is ‘n ontwikkelende storie. Vaalweekblad sal later meer breedvoerig berig wanneer ons meer inligting het.


‘n Uitgebrande skoen op die ongelukstoneel. Foto: Christiaan Cloete

