*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (22 September 2023) verskyn. Koop ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.
MEYERTON. – “Tekeninge het betekenis. Selfs ‘n gekrabbel en die eenvoudigste lyne het ‘n betekenis.” Só het die kunstenaar Amalie von Maltitz Saterdag tydens die opening van die uitstalling van haar en haar kunsstudente se werk by die Ligkuns Galery in Lochstraat gesê.
Die veelsydige kunstenaar, wat in haar jonger dae vir nege jaar ‘n Safarie vlieënier, en vir 29 jaar ‘n vlieënier vir die Suid-Afrikaanse Lugmag Reserwe Eskader was, bied sedert 2004 kunsklasse in keramiek en beeldhouwerk by haar Stalhuis Beeldhoukuns-ateljee in Westcliff, Johannesburg aan.

Van kuns weet Von Maltitz ’n ding of twee. Sy het haar baccalaureusgraad aan die Universiteit van Kaapstad verwerf en daarna ‘n meestersgraad in kunsgeskiedenis aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), nou die Universiteit van Johannesburg, behaal voordat sy in Duitsland aan die Akademie der Bildenden Künste studeer het.
Met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy ook waardevolle ervaring in haar hoedanigheid as uitstallingsbeampte by die Randse Afrikaanse Universiteit opgedoen.
Laasgenoemde pos het sy vir 13 jaar beklee. Conté-krytsketse en beeldhouwerke wat deur Von Maltitz geskep is, sowel as beeldhouwerke van haar kunsstudente word tans by die Ligkuns Kunsgalery uitgestal.

Von Maltitz is bekend vir haar beeldhouwerk in keramiek en klei met vertikale vorms wat bome, rotse en strukture uitbeeld. Die kunstenaar sê sy skilder al van kleintyd af.
As kind het sy prentjies in haar skoolboeke vir Bybelstudie, Aardrykskunde en Biolgie geteken om sin te probeer maak van konsepte waaroor sy geleer het.
Die tekenproses was vir haar ‘n manier om dinge en die wêreld om haar beter te probeer verstaan, soos wat haar ou sketsboeke van destyds getuig.

Tydens Amalie se toere deur Europa was haar sketsboek ook altyd byderhand, reg om sketse in museums en in galerye en van interessante geboue te maak. Om sketse te maak was ook vir haar ‘n manier om die werke van ander kunstenaars, soos die beeldhouer Henry Moore te verstaan.
Met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy sketse van die rykdom van SuidAfrika se natuurlike landskappe gemaak. Hierdie dinamiese landskap was ook die inspirasie vir baie van die werke wat by die uitstalling uitgestal word.
* Die uitstalling is amptelik op 16 September geopen en duur tot 29 September.

