Ewe tuis op die verhoog as in die water
Dawson de Vernon is ‘n talentvolle tiener van die Vaal wat net so tuis in die swembad is as wat hy op die verhoog is.
*Die berig het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (Vrydag 6 Oktober 2023) verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir die jongste nuus.
VEREENIGING. – Drama en swem is die twee dinge wat Dawson de Vernon, ‘n gr. 11-leerder van Khairos Privaat Skool in Duncanville, se hart laat warm klop.
Die veelsydige 17-jarige is by Gauteng se Show Your Talent-steekkompetisie wat in September plaasgevind het, aangewys as beste akteur.
Saam met die gesogte titel het hy ook R10 000 prysgeld losgeslaan.

Dit is alles te danke aan Dawson se stuk getiteld Home Affairs wat ‘n komiese kykie bied na wat by die departement van binnelandse sake aangaan.
Die stuk dryf die spot met die lang rye wat van Vanderbijlpark tot in Vereeniging staan en die struikelblokke wat oor jou pad kom wanneer jy dié staatsdepartement besoek.
Dawson vertel hy het verlede jaar die departement van binnelandse sake besoek om sy ID-boekie te gaan afhaal, en toe eerstehands die frustrasie ervaar.
Akteur en komediant Themba Robin se TikTok-video’s het vir Dawson verder as inspirasie vir Home Affairs gedien.

Sy ander stuk Loadshedding gaan soos die naam impliseer oor frustrasies wat met kragonderbrekings gepaard gaan.
Dawson sê hy kies meeste van sy stukke self.
Hy verkies temas waarmee gewone SuidAfrikaners mee worstel en aanklank kan vind.
By vanjaar se Del Arte Eisteddfod het Vernon ook geskitter en die A++’e ingeryg. Sy liefde vir drama het begin toe ‘n medeleerder in graad 1 ‘n stuk van A.G. Visser getiteld “Hoogmoed” gekry het om op te voer, maar dit nie wou doen nie.
Dawson het aangebied om die stuk op te voer en sommer met die intreeslag baie goed gedoen.
Deure het vir hom oopgegaan toe hy later by Sonja Myburgh se dramaskool in Vereeniging aangesluit het, waar sy talent ontgin en verder ontwikkel is.

Dawson is ook ‘n kranige swemmer wat in Maart vanjaar aan die SuidAfrikaanse Vlak 3 Streekkampioenskappe sou deelneem, maar moes weens ‘n sleutelbeenbreuk wat hy tydens ‘n val opgedoen het, uit die kompetisie onttrek.
Hy het ook aan die MSC Margate Sprintsswemkompetisie en aan die Durban Seagulls-swemkompetisie deelgeneem waar hy goed presteer het.
Dawson is gemaklik met al die vier swemstyle, naamlik vryslag, rugslag, borsslag en vlinderslag, maar meen hy is die beste met rugslag.

Dawson is nie seker wat hy eendag wil word nie, maar neem vakke waarmee hy ‘n verskeidenheid beroepe kan volg.
Hy het onlangs as ‘n agtergrond-akteur in die kykNET-dramareeks Diepe Waters gespeel, waar hy die geleentheid gekry het om voor die kameras te swem.
Die reeks vertel die verhaal van gesinne wat ten alle koste wil wen, maar wat sukkel om kop bo water te hou. Dit draai om die beproewings van ‘n gemeenskap wat om ‘n gesogte swemklub, die Swart Marlyne, wat deur die Swartsfamilie besit word, gesentreer is.
Omdat swem en drama twee van Dawson se groot passies is, sal hy graag eendag in die reeks wil speel, aangesien hy voel dat hierdie reeks twee van sy grootste liefdes bymekaarbring.


