News

AfriForum soek antwoorde oor Ngwathe-hofbevel

Die organisasie sê inwoners gaan gebuk gaan onder ineenstortende infrastruktuur en swak dienslewering, en dat verdere regstappe sal volg as die regering weier om op te tree.

PARYS – AfriForum eis dringende antwoorde van MaQueen Letsoha-Mathae, premier van die Vrystaat, oor die provinsiale regering se versuim om die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit onder administrasie te plaas.

“Geen regeringsinstelling is bo die reg verhewe nie. Die Vrystaatse regering moet nou wys dat hy die hof se gesag respekteer en in die belang van inwoners optree,” sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak.

Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die munisipale raad, wat ingevolge ’n hofbevel reeds ontbind moes wees. verlede week ’n nuwe begroting aanvaar het.

Die burgerregteorganisasie het gister sy eise in ’n amptelike brief aan die premier uiteengesit. Daar is boonop ook geen aanduiding dat die munisipaliteit onder administrasie geplaas is of dat ’n administrateur aangestel is nie.

Die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein het reeds op 20 Junie 2025 beslis dat die Ngwathe-munisipaliteit sy grondwetlike en administratiewe pligte teenoor inwoners versuim het.

Die hof het die provinsiale regering beveel om ingevolge artikel 139(5) van die Grondwet in te gryp, ’n herstelplan te implementeer, die raad te ontbind, ’n administrateur aan te stel en ’n tydelike begroting goed te keur.

Hierdie bevel is finaal en afdwingbaar nadat die Konstitusionele Hof op 2 Junie vanjaar die munisipaliteit se laaste poging tot appèl van die hand gewys het.

AfriForum is egter ernstig bekommerd omdat daar nog geen aanduiding is dat die provinsiale regering enige stappe gedoen het om die bevel uit te voer nie.

“Die premier het volgens mediaberigte aangedui dat die hofbevel sonder versuim uitgevoer sal word, tog gaan die munisipale raad voort asof die bevel nie bestaan nie.

“Dit wek ernstige vrae oor die provinsiale regering se eerbiediging van die oppergesag van die reg,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivierstreek.

In sy skrywe eis AfriForum dat die premier teen 26 Junie skriftelik bevestig watter stappe reeds gedoen is, wanneer die ingryping amptelik afgekondig word, en wanneer die raad ontbind gaan word.

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by die Parys-tak, kontak Schalk Burger by 082 653 4281.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button