VEREENIGING – Wat as ‘n besondere oomblik vir Tyrone Langeveldt bedoel was, het ná die afsterwe van sy afrigter en mentor, Kaicho James Vermaak, in ‘n emosionele huldeblyk verander.
Langeveldt is verlede Saterdag tydens die RCFA Best of the Best All Fighting Modes-toernooi met ‘n kampioenskapsgordel vereer.
‘n Gordel wat Vermaak vroeër vanjaar gereël het nadat Langeveldt vir Manie Blom by die RCFA Worlds-toernooi in April verslaan het.

Hoewel Langeveldt destyds nie die fondse gehad het om die gordel te bekostig nie, het Vermaak geld ingesamel om dit moontlik te maak.
Hy het beplan om die gordel tydens ‘n spesiale klubgeleentheid aan Langeveldt te oorhandig, maar is oorlede voordat dit kon gebeur.
Die gordel is toe verlede Saterdag ná Langeveldt se laaste geveg aan hom oorhandig. Langeveldt het voorts by die toernooi drie eerste plekke verower.
Hy en Blom pak mekaar weer einde Augustus by RCFA All Out War in Potchefstroom maar die gordel sal nie op die spel wees nie.
