SportSport

JP en Darius dra Vaal en SA se vaandel

Wil hul stempel by die Jeug Olimpiese Spele afdruk.

VANDERBIJLPARK – Twee van die Vaaldriehoek se voorste jong veldatlete gaan hulself teen die wêreld se bestes meet wanneer hulle by Afrika se eerste Jeug Olimpiese Spele in Senegal aantree.

Darius Botha van die Hoërskool Dr. Malan sal in die gewigstootsirkel doenig wees, terwyl JP Theron van die Hoërskool Driehoek die hamer sal laat vlieg.

JP Theron.

Die vierde Somerjeug Olimpiese Spele het Saterdag 31 Oktober amptelik in Senegal geopen en duur tot 13 November. Dit is die eerste keer dat ’n Olimpiese sportgeleentheid op Afrika-bodem aangebied word. Die kompetisies vind by agt plekke in Dakar, Diamniadio en Saly plaas.

Volgens die Internasionale Olimpiese Komitee word sowat 2 655 atlete tussen 14 en 17 jaar by die Spele verwag. Altesaam 204 nasionale Olimpiese komitees word verteenwoordig, saam met ’n vlugtelingespan wat vir die eerste keer aan die Jeug Olimpiese Spele deelneem.

Die program bestaan uit 25 kompetisiesportsoorte en 153 medalje-items. Daar is 73 items elk vir seuns en meisies, asook sewe gemengde items. Nog tien sportsoorte vorm deel van ’n deelnameprogram.

Suid-Afrika het ’n span van 46 atlete oor 15 sportsoorte gekies. Buiten atletiek word die land onder meer in swem, gimnastiek, sewesrugby, boogskiet, fietsry en driekamp verteenwoordig. SASCOC het die finale span, met Botha en Theron se name daarin, op 1 Oktober bekendgemaak.

Darius Botha

Hoewel die Spele reeds aan die gang is, vind die atletiekkompetisie eers van 8 tot 10 November plaas. Die twee plaaslike atlete se deelname lê dus nog voor.

Botha het vroeër vanjaar die Suid-Afrikaanse Skole o.17-gewigstoot gewen en ’n persoonlike beste van 19,71 m aangeteken. Hy het ook goud in gewigstoot en diskus by die COSSASA-spele in Bulawayo, Zimbabwe, verower.

Theron het vanjaar ’n persoonlike beste van 73,76 m in die o.18-hamergooi aangeteken.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button