VAALPARK – Die kollig het opnuut op die Vaaldriehoek se jong skoonhede geval toe die jaarlikse Mnr. en Mej. Matriek-kompetisie op 24 Oktober sy 20ste bestaansjaar met ’n glansgeleentheid by No Name Village in Vaalpark gevier het.
Die kompetisie, wat deur Juanita Oosthuizen van Chantenique Models aangebied word, bied jaarliks aan jongmense die geleentheid om hul selfvertroue, persoonlikheid en voorkoms op die verhoog ten toon te stel. Volgens Oosthuizen het die kompetisie oor die afgelope twee dekades ’n jaarlikse instelling geword.
Die kompetisie is oop vir almal wat belangstel om deel te neem en bestaan uit twee afdelings, naamlik Mnr. en Mej. Matriek en Matriek Face of the Year. In die Mnr. en Mej. Matriek-afdeling kry deelnemers die geleentheid om hul staal op die verhoog te wys.
Hulle stap soos modelle, vertoon hul uitrustings en probeer die beoordelaars beïndruk. Oosthuizen beklemtoon egter dat dit nie ’n tradisionele modelkompetisie is nie, hoewel deelnemers wel modelwerk op die verhoog doen.

Die tweede afdeling, Matriek Face of the Year, word op grond van foto’s beoordeel. Deelnemers hoef dus nie noodwendig hul staal op die verhoog te wys om vir dié titel in aanmerking te kom nie.’n Paneel beoordelaars, wat ook bekende gesigte uit die gemeenskap insluit, word jaarliks ingespan om die wenners aan te wys.
Die gala-aand bereik sy hoogtepunt wanneer die wenners van die onderskeie afdelings aan die einde van die verrigtinge gekroon word.
Volgens Oosthuizen is die geleentheid ’n jaarlikse hoogtepunt op Chantenique Models se kalender. Met twee dekades agter die rug, bly Mnr. en Mej. Matriek ’n geleentheid waar jongmense hul selfvertroue kan ontwikkel en die ervaring van ’n gala-aand op die verhoog kan geniet.
Die gala-aand het sy hoogtepunt bereik toe die wenners van die onderskeie afdelings aan die einde van die verrigtinge gekroon is. Kaley van Greune en Corné Mostert het met die gesogte titels van Mej. en Mnr. Matriek 2026 weggestap.
Makayla Vorster is as eerste prinses aangewys, met Chanré Groenewaldt as tweede prinses. Stephan Botha het die titel van eerste prins verower, terwyl Austin Coetzee as tweede prins aangewys is. Austin het boonop die Public Choice-toekenning ontvang, terwyl Jeanevé Schültz dieselfde toekenning in die meisiesafdeling gewen het.
In die Face of Matric-afdeling is Keanu Currie en Zoey Engelbrecht as die wenners gekroon. RJ Preston is as eerste prins aangewys, met Victor Lotter as tweede prins. Chanté Hugo het die eersteprinses-titel verower, terwyl Cathy van Staden as tweede prinses aangewys is.
