AYRTON soek nie die kollig nie, maar sy musiek trek aandag
AYRTON se musiekreis het plaaslik begin, maar sy drome strek veel verder.
MEYERTON – Terwyl baie jong kunstenaars alles in die stryd werp om soveel moontlik aandag op sosiale media te kry, erken die opkomende musikant AYRTON dat hy eintlik heel gemaklik agter die skerms is.
Ironies genoeg is sy nuutste enkelsnit, Attention, juis geïnspireer deur mense wat gedurig na aandag smag.
Volgens AYRTON het die idee vir die liedjie ontstaan uit iets waarmee byna almal kan identifiseer.
“Ons almal ken ten minste een persoon wat net aandag soek, of dit nou op sosiale media of in die alledaagse lewe is,” vertel hy.
Met Attention wou hy dié beeld vasvang in ‘n energieke poprock-liedjie met ‘n moderne aanslag.
Die enkelsnit vorm deel van sy debuutEP, Gemini, wat uit vier snitte bestaan.
Eerder as om by een styl vas te steek, neem die EP luisteraars op ‘n musikale reis deur verskillende genres, waaronder poprock, country-pop, Afro-pop en hip-hop.
Musiek is al van kleins af deel van sy lewe. Waar ander kinders ure voor die televisie deurgebring het, het hy verkies om musiekvideo’s te kyk en nuwe kunstenaars te ontdek.
Daardie passie het uiteindelik daartoe gelei dat hy sowat vier of vyf jaar gelede besluit het om musiek ernstig aan te pak.
Hoewel sy liedjies uiteenlopende style aanneem, sê AYRTON hy dink nie doelbewus in genres wanneer hy skryf nie.
Vir hom begin die kreatiewe proses gewoonlik met ‘n akkoordprogressie of melodie, waarna die lirieke natuurlik volg.
Al vier snitte op Gemini is deur Charl Shaw vervaardig – ‘n samewerking wat volgens AYRTON van die begin af moeiteloos verloop het.
Vir nou is sy fokus daarop om sy musiek met soveel moontlik mense te deel, maar hy droom reeds groter.
Ná die mylpale wat hy reeds plaaslik bereik het, hoop hy om een dag ook internasionale gehore te bereik.
Met Attention bewys AYRTON dat ‘n mens nie noodwendig self die middelpunt van aandag hoef te wees om musiek te skep wat mense laat luister nie.