Gedenkstap vir vergiftigde honde hierdie Saterdag
Wat as ’n huldeblyk aan drie geliefde honde begin het, het gegroei tot ’n jaarlikse dag van herinnering en omgee.
HENLEY ON KLIP – Wat in 2025 as ’n gedenkstap vir drie honde begin het, het gegroei tot ’n groter geleentheid wat nie net Daisy, Shadow en Annie se nagedagtenis eer nie, maar ook twee plaaslike dierewelsynsorganisasies ondersteun.
Die Bass Lake Memorial Fundraiser Walk, wat deur Hettie Fowlds aangebied word, vind op 22 Augustus by Bass Lake in Henley on Klip plaas.

Vanjaar word die 3,6 km-stap vir die eerste keer gevolg deur ’n “All Things Dogs”-ekspo en aktiwiteite.
Fowlds se betrokkenheid by die projek het ontstaan nadat sy op 20 Mei 2025 haar drie honde binne enkele dae verloor het nadat hulle vergiftig is.
Daisy is dood aangetref nadat Fowlds by haar huis aangekom het, terwyl Shadow, wat aanvanklik nog geleef het, op 22 Mei uitgesit moes word nadat haar toestand versleg het.
Annie se liggaam is die volgende dag naby die hek gevind.

Sy het haar hartseer in ’n projek omskep en die eerste Bass Lake Memorial Fundraiser Walk in Julie 2025 aangebied, met Vaalpets as begunstigde.
Volgens Fowlds was die aanvanklike bedoeling dat dit ’n eenmalige geleentheid sou wees, maar die reaksie van die gemeenskap het haar laat besluit om dit ’n jaarlikse gebeurtenis te maak.
Vanjaar word Hermes Haven Senior Furbaby Sanctuary saam met Vaalpets as begunstigdes ondersteun.
Die geleentheid begin om 08:00 by Bass Lake en toegang is gratis.
Finansiële skenkings, hondekos en troeteldierprodukte word verwelkom.
Honde is welkom om saam met hul eienaars deel te neem, mits hulle aan leibande is. Die dag word aangebied as ’n MAC Gives Back-inisiatief, met die 3,6 km-stap wat deur die Meyerton Athletics Club ondersteun word.
Fowlds sê ekspo bied ook die geleentheid om ’n dag rondom honde en hul eienaars te skep.
Belangstellendes wat by die troeteldier-ekspo wil uitstal, kan Fowlds by 079 746 9618 kontak.