
OPDATERING – 17:45 -2026/08/17
Perd in Meyerton uitgesit ná ernstige beserings
MEYERTON – Die perd wat vanmiddag by die hoek van Johan le Roux- en Gallowaystraat, oorkant die Midvaal-brandweerstasie, in die pad beland het, moes ongelukkig uitgesit word nadat sy ernstige beserings opgedoen het.
Ashley Ness, senior inspekteur by die Highveld Horse Care Unit, het aan Vaalweekblad gesê die perd was siek en is vanaf ’n veearts vervoer toe die voorval plaasgevind het.
Volgens Mess het die perd vermoedelik in die sleepwa vasgehaak, of moontlik probeer om uit die sleepwa te spring. ’n Vrou wat op die toneel was, het die perd halfpad uit die sleepwa sien hang, waarna die bestuurder gestop het. Hulle het daarin geslaag om die perd uit die sleepwa te kry.
Mess het gesê daar is ’n verdeling in die sleepwa, wat ontwerp is om twee perde te vervoer. Sy vermoed die perd het moontlik oor die verdeling probeer kom en in die proses ’n heup ontwrig.
“By ’n perd is daar ongelukkig geen terugkeer daarvan nie,” het Mess gesê.
Sy het ook vermoed dat die perd moontlik inwendige bloeding opgedoen het. Die perd was glo in skok en het volgens inligting ongeveer 45 minute in die pad gelê voordat verdere hulp verleen kon word.
“Die mees menslike, vriendelikste opsie was om haar uit te sit,” het Mess gesê.
Mess het benadruk dat daar wel gepoog is om die perd te red.
Die perd se liggaam is volgens Mess se begrip op ’n laaibak na die Highveld Horse Care Unit vervoer.
Die presiese omstandighede rondom hoe die perd uit die sleepwa beland het, is nog nie duidelik nie.
OPDATERING – 16:55 -2026/08/17
Vaalweekblad verneem die perd het glo uit ‘n voertuig geval en baie seergekry.
Die perd is tans onder sedasie en gaan van die toneel af vervoer word.
MEYERTON – ’n Perd het vanmiddag by die hoek van Johan le Roux- en Gallowaystraat, oorkant die Midvaal-brandweerstasie, ineengestort.
Lede van die Midvaal-verkeersdepartement en die die Midvaal-brandweer is op die toneel om te help.
Die voorval het tot verkeersopeenhopings gelei, met verkeer wat tans stadig beweeg.
Motoriste word versoek om die gebied met omsigtigheid te nader en vir vertragings voorsiening te maak.
Die omstandighede wat tot die perd se ineenstorting gelei het, is nog nie bekend nie.
Nooddienspersoneel is steeds op die toneel.
