Knights jaag vanaand Merlin-kroon
Spanning loop hoog voor vanaand se eindstryd van die Valke Merlin-liga, waarin die Meyerton Knights en NWU Vaal om die kroon sal meeding.
VANDERBIJLPARK – Die Meyerton Knights is gereed om vanaand (Donderdag 20 Augustus) hul aanslag op die Valke Merlin-ligatitel te loods wanneer hulle om 20:00 op die NWU Vaal-kampus teen die studente uitdraf.
Die eindstryd sou aanvanklik Saterdag plaasvind, maar is weens onvoorsiene omstandighede na vanaand verskuif.
Die Knights het hul plek in die eindstryd met ’n weldverdiende 43-33-oorwinning oor Heidelberg Rugbyklub beklink.

Dit was ’n toets van karakter én rugbyvernuf, met Heidelberg wat tot die einde toe geweier het om tou op te gooi.
Die Meyertonners het egter in die beslissende stadiums koelkop gebly en hul voorsprong behou om die wedstryd oor die wenstreep te dra.
NWU het op sy beurt vir die eindstryd gekwalifiseer deur die Sasolburg Cobras met 22-18 te klop.

Hoewel die Knights vanaand op NWU se tuisveld uitdraf, sal hulle hoop dat hul ondersteuners in groot getalle opdaag om hulle in hul belangrikste kragmeting van die seisoen aan te moedig.
Die Knights se tweedespan sal steeds Saterdag (22 Augustus) om 14:40 teen NWU se tweedespan in hul onderskeie eindstryd uitdraf. Dié wedstryd vind ook op die NWU Vaal-kampus plaas.

