Medebeskuldigde wil glo skuldig pleit in Van Lingen-moordsaak
Een van die mans wat van die moord op die Pretoriase sakeman Adriaan van Lingen beskuldig word, wil glo skuldig pleit.
VEREENIGING – Een van die beskuldigdes in die hoëprofiel-moordsaak van die Pretoriase sakeman Adriaan Theunis van Lingen wil na verneem word skuldig pleit.
Die hof moet egter nog beslis oor ‘n aansoek om die verhore te skei.
Mandla Sizwe Nkosi (34) se regsverteenwoordiger was op 2 November, in die Vereeniging-streekshof teenwoordig.
Medebeskuldigde Glen Neguyo Lelo Ngobeni (51) was sonder regsverteenwoordiging en het geweier om sonder regsadvies op die skeidingsaansoek te reageer.
As gevolg hiervan is die saak tot 6 November uitgestel.
Streeklanddros Retha Willemse het aan die hof verduidelik dat die aansoek daarop gemik is om die verrigtinge teen een beskuldigde afsonderlik af te handel, terwyl die ander se verhoor voortgaan.
Ngobeni het egter aangevoer dat hy nie die implikasies hiervan vir hom verstaan nie en dat hy dit onregverdig beskou om sonder regsverteenwoordiging voort te gaan.
Hy het aan die hof gesê hy maak nog geld bymekaar om ‘n advokaat te betaal nadat sy vorige regsverteen-woordiger onttrek het toe daar glo geld uitstaande was, nadat hy reeds R60 000 aan hom betaal het.
Landdros Willemse het Ngobeni daarop gewys dat hy ‘n prokureur moet aanstel en benadruk dat die hof nie kan toelaat dat sy gebrek aan regsverteenwoordiging die verrigtinge tot nadeel van ‘n medebeskuldigde vertraag nie.
Van Lingen (64), ‘n inwoner van die Wingate Park-gholflandgoed in Pretoria, is op 12 Februarie 2024 as vermis aangemeld nadat hy nie van ‘n sakevergadering in Olifantsfontein teruggekeer het nie.
Sy liggaam is die volgende dag in die Kliprivier-gebied in Midvaal gevind met sy hande agter sy rug vasgebind en ‘n skietwond aan die agterkant van sy kop.
Sy Ford Ranger-bakkie is later dieselfde dag uitgebrand op ‘n hoewe in De Deur ontdek.
Volgens die staat is R500 000 uit sy bankrekening na ‘n onbekende rekening oorgeplaas, en sy bankkaart is by ‘n taverne in Tembisa gebruik.
Ondersoek na dié transaksie het volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) tot die inhegtenisneming van die twee verdagtes gelei.
