Local newsNews

Hondjie en budgies sterf in huisbrand

Om te sien hoe hul huis van 25 jaar met al hul besittings in vlamme opgaan het die gesin, hul bure en familielede getraumatiseerd gelaat.

VANDERBIJLPARK – ‘n Huis het op 14 Augustus in Bessemerstraat afgebrand. Die ondersoek duur voort om die oorsaak te bepaal. Dis die koue feite, maar ‘n familie se lewens het nou ontspoor.

Daar is niks van die huis oor nie. Net die dop staan en dis onstabiel. Die huis sal gesloop moet word. Die mense het alles verloor.

Die vlamme woed hoog in die binnekant van die huis. Foto: Dernica Pienaar

Dernica Pienaar was die een wat die oproep ontvang het. “Die huis brand, help!” Sy het op ‘n WhatsApp noodgroep gevra vir hulp en na haar ouers se huis gejaag.

Daar aangekom was verskeie watertenks en brandweerdienste reeds daar. “Ek was histeries,” onthou sy. Die brandweer het uiteindelik die vuur geblus. Maar, die skade was berokken.

Haar ouers het 25 jaar in die huis gebly en skielik was alles weg. Die ergste was dat haar oorlede oupa se hondjie, Babatjie, in die brand gesterf het. “Hy was al 17 jaar oud en kon nie meer hoor of sien nie. Hy was in die badkamer vasgekeer,” vertel ‘n hartseer Denica.

‘n Hartseer verhaal. Die bietjie wat oorgebly het, het waterskade. Foto: Dernica Pienaar

Haar oupa is onlangs oorlede en hulle het juis baie van sy goed in die huis gehou ter herinnering. Nou is alles verlore. Haar ma se twee budgies is ook dood.

Niemand anders het brandwonde opgedoen nie, maar haar pa se longe het skade van die rook nadat hy in die huis gehardloop het. Dernica se suster was in die woonstelletjie agter in die erf en haar pa was doenig in die motorhuis toe die brand uitgebreek het.

Teen die tyd wat haar sussie die rook gesien het, was die sitkamer al in ligte laaie en het die brand vinnig versprei. Haar ouers en suster bly tydelik in die woonstel agter in die erf en haar broer by haar.

Die woonstel is eintlik net ‘n kamer met ‘n badkamer. Daar is darem koue water en die bure verskaf elektrisiteit. Denica sê sy kan net dankie sê vir almal se bystand.

Die SPCA het opgedaag en al die honde ondersoek en later die middag hondekos en ‘n hondehok kom aflaai. “Dis verbasend hoe mense net bymekaar kom en help,” sê sy.

Die familie is getraumatiseer, maar hulle gaan aan. “My man het net gesê, dis nie nou die tyd om te gaan lê nie, en dis hoe ek aangaan.”

Hulle benodig dringend ‘n gas geyser, ‘n kas, somersklere en vouchers om die nodige te kan koop. WhatsApp 083 256 1973 indien jy kan help, of lewer jou bydra af by Bessemerstraat 15, CW6.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button