SportSport

Nuwe atletiek-hoedjie rus op Valie se kop

Beoog om diep spore by NWU te trap.

VEREENIGING – Vir Tracey Olivier is atletiek nie net ‘n deel van haar lewe nie, maar ’n deel van haar menswees.

Almal in Vaaldriehoekse atletiek weet wie sy is. Van haar dae as ’n naelloper in Vereeniging tot haar nuwe rol as NWU se eerste vroulike atletiekbestuurder, het sy al die kante van die sport beleef en verskeie rolle bekleë.

Haar wortels bly egter in die Vaal geanker en vir haar is haar herkoms belangrik. “In Vereeniging het ek geleer om innoverend te wees, want hier het ons dit nog nooit maklik gehad nie, veral wat sport betref.

As jy nie dinge laat gebeur nie, gebeur dit nie,” sê Olivier. As mededingende naelloper spog sy met persoonlike beste tye van 12.01 sekondes in die 100 m en 24.12 sekondes in die 200 m.
Vandag wonder sy gereeld hoe ver sy kon vorder indien sy destyds beter fasiliteite, afrigting en geleenthede tot haar beskikking gehad het.

“Ons het saam met my pa by Dick Fourie-stadion geoefen en nooit die geleenthede of luukse van ’n tartanbaan of gekwalifiseerde afrigter gehad nie.” Olivier erken ook dat sy self nie altyd haar potensiaal benut het nie.

“Ek het nie atletiek ernstig genoeg opgeneem nie en het soms net vir die sosiale aspek opgedaag.” Dié ervaring het later haar benadering tot jong atlete beïnvloed. Sy wil hê hulle moet in hulself glo, droom en bereid wees om vir daardie droom te werk. Haar betrokkenheid by Atketiek Vaaldriehoek het gegroei nadat sy begin onderwys gee het.

Sy het haar atlete na provinsiale spanne vergesel en as spanbestuurder opgetree. Later het sy op nasionale en internasionale vlakke betrokke geraak. Maar Olivier is bekommerd oor die pad wat Vaal-atlete moet loop. “

AVT-atlete behaal sukses sonder al die fancy hulpbronne en fasiliteite.” Die Vaal het volgens haar egter dringend beter fasiliteite nodig. Daar is geen tartanbaan (hierdie kant van die Vaalrivier) nie, min voltydse afrigters en beperkte geleenthede vir talentidentifisering.
“Ons atlete in die townships word erg gefaal. Soveel val deur die krake.” Sy sê die koste van elite-atletiek plaas ook ’n groot druk op jong atlete.

Skoene, toerusting, voeding, mediese sorg en internasionale deelname moet dikwels uit hul eie sak betaal word. Dit is een van die redes waarom haar nuwe rol by NWU vir haar belangrik is. Sy wil groter beurse en beter ondersteuning vir atlete hê. “Daar is baie ruimte vir verbetering,” sê sy.

Haar rol as ma bring nog ’n dimensie tot haar betrokkenheid by atletiek. Haar seuns, Welré en Ethan, is albei aktief in die lang- en driesprong. Ethan het reeds op die internasionale verhoog gepronk. Wanneer haar seuns meeding, verdwyn die bestuurderhoed egter.
“Ek sien myself as ’n baie trotse ma.” Sy erken dat dit moeiliker is om haar eie kinders te sien kompeteer as om self mee te ding.

“Welré en Ethan sal altyd die twee wees vir wie ek ’n bietjie meer sal bid,” bieg sy.
Olivier se grootste uitdaging lê nou by NWU. Sy erken dat daar nog baie is om te leer, maar haar doel is duidelik. As sy enige probleem in Suid-Afrikaanse atletiek kon oplos, sou dit die ondersteuning van atlete en afrigters wees.

“Ons het ’n baie groot poel en baie min vissermanne.”
Vir die jong Tracey van Vereeniging sou haar die posisie waarin sy haarself nou bevind onwerklik wees om te glo. Haar boodskap aan haarself sou eenvoudig wees.

“Moet nooit jou waarde onderskat nie. Harde werk en ’n liefde vir atletiek sal jou ver bring.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button