VF Plus eis deursigtigheid oor Emfuleni se waterplan
Die VF Plus sê hy sal nie ’n nuwe struktuur vir die bestuur van water en sanitasie in Emfuleni steun voordat raadslede behoorlik oor die finansiële en bestuursimplikasies daarvan ingelig is nie.
VANDERBIJLPARK – Die VF Plus het sy kommer uitgespreek oor planne vir ’n spesiale vennootskap – die sogenaamde Special Purpose Vehicicle (SPV) – wat water- en sanitasiedienste in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit moet bestuur.
Gerda Senekal, ‘n VF Plus-raadslid in Emfuleni, sê ’n nuwe administrasiekontrak is Woensdag aan die raad voorgelê, maar dat belangrike vrae oor die voorgestelde struktuur steeds onbeantwoord is.
Volgens Senekal is die SPV, wat aanvanklik as ’n private maatskappy beoog is, nou as ’n staatsbeheerde entiteit met ’n 75/25-aandeelhouding tussen Rand Water en Emfuleni gestruktureer.
Sy sê daar is egter nie voldoende verduidelik waarom die struktuur verander het of wat Emfuleni se 25%-belang in praktyk beteken nie.
’n SPV is ’n afsonderlike regsentiteit wat geskep word om ’n spesifieke funksie te bestuur, in dié geval water en sanitasie.
Die VF Plus het reeds in November 2025 voorwaardelike steun vir so ’n oplossing uitgespreek, mits daar duidelike tydlyne, gereelde vorderingsverslae en streng toesig is.
“Emfuleni kan nie openbare geld beskikbaar stel sonder volledige deursigtigheid nie.” — Gerda Senekal
Die party wil nou onder meer weet wie die voorgestelde finansiële risiko van R1,2 miljard sal dra, hoeveel geld uit Emfuleni se toekennings sal kom en hoeveel uiteindelik vir infrastruktuur en instandhouding beskikbaar sal wees.
Senekal sê daar moet ook duidelikheid wees oor moontlike skuldafskrywings, toekomstige begrotingsverpligtinge, die samestelling van die SPV se direksie en hoe besluite geneem sal word.
“Die VF Plus sal nie teen ’n oplossing stem nie, maar sal ook nie blindelings vir ’n struktuur stem waarvan die implikasies nie verduidelik is nie,” sê Senekal.
Volgens haar benodig inwoners ’n volhoubare oplossing vir Emfuleni se water- en sanitasieprobleme, maar moet dit met deursigtigheid en verantwoordbare bestuur gepaardgaan.