Entertainment

Reeksmoordenaar-vrese: Vroue gemaan om waaksaam te wees

Vroue word gewaarsku om nie alleen stap of draf nie, veral nie in afgeleë gebiede nie.

Vroue word aangeraai om ekstra voorsorg te tref nadat verskeie vroueliggame die afgelope twee maande in en om Kempton Park gevind is.

Een van die slagoffers was die 38-jarige drawwer Elizabeth “Tsontso” Moselakgomo, wat op 9 September nie van haar gewone middagdrafsessie in Rhodesfield teruggekeer het nie. Haar liggaam is drie dae later gevind.

Hoewel vrese bestaan dat ’n reeksmoordenaar moontlik aan die Oos-Rand bedrywig is, het die polisie dit nog nie bevestig nie.

’n Multidissiplinêre span probeer vasstel of daar enige verband tussen die moorde bestaan.

Die bekende misdaadaktivis en voormalige joernalis Yusuf Abramjee het intussen die volgende veiligheidswenke gedeel:

*Moenie alleen stap of draf nie, veral nie in afgeleë gebiede nie.

*Oefen verkieslik bedags, in groepe of in besige gebiede.

*Vermy stil, swak verligte en afgesonderde plekke.

*Beplan jou roete vooraf en kies besige, goed beligte paaie, verkieslik waar kringtelevisiekameras is.

*Hou jou selfoon gelaai en deel jou roete of ligging met ’n vriend of familielid.

*Laat iemand gereeld weet dat jy veilig is.

*Bly bewus van jou omgewing en vermy afleidings soos oorfone.

*Vertrou jou instink en verlaat die gebied onmiddellik indien iets verkeerd of onveilig voel.

*Gebruik betroubare openbare vervoer of reis saam met iemand wat jy ken.

*Meld verdagte persone, voertuie of gedrag onmiddellik by die polisie aan.

*Hou ’n oog oor ander mense en waarsku hulle indien jy moontlike gevaar opmerk.

Abramjee beklemtoon dat veiliger gemeenskappe by bewustheid, waaksaamheid en ondersteuning vir mekaar begin.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button