Meer pa as afrigter, maar ‘n kwaai een
Coach André is bekend vir sy sterk waardes, rotsvaste geloof, sy passie vir krieket en die manier hoe hy elke krieketspeler mentor.
VANDERBIJLPARK – Krieketorganiseerder André van Rensburg ontmoet my by Hoërskool Driehoek se Hek 8. Die kriekethek. Hierdie hoek van die skool is krieket heiligdom.
Dis waar die spelers oefen, waar die krieketkantoor is en waar die spelers weet hulle kan net wees. Die spelers kom groet hul afrigter, Coach André, elke pouse met die hand. Dis hoe hy hulle geleer het.
Vir André gaan dit oor meer as net die spel. Hier leer spelers hoe om hul opponente met respek te hanteer en te ontvang. Hoe om in hulself te glo en die lewe met geesdrif aan te pak.
“Ek is kwaai en reguit,” beduie hy, maar voeg ook by hy is meer soos ‘n pa vir die spelers. “Dis belangrik dat hulle weet hoe om die regte keuses te maak en besluite te neem. Jy weet krieket is baie soos die lewe.
As jy kolf het jy net een kans, want as jy uit is, is jy uit. Dan stap jy alleen die pad terug kleedkamer toe. As jy boul, is jy alleen, almal kyk vir jou. As jy veldwerk doen, is jy alleen. Dis jou verantwoordelikheid om vinnig besluite te neem,” beduie hy.
“Krieket toets jou mental well-being, net soos die lewe doen. Ek sê altyd vir die spelers, die oomblik as hul oor daai wit grenstou trap, dan los hulle al hul probleme agter. Op die veld kan hulle net hulself wees.”
André het ‘n groot passie vir die spel, maar ook die spelers. Hy rig elke jaar die o14’s af en is trots op elke speler se groei deur die jaar en om te sien hoe hul selfvertroue saam met hul vaardighede toeneem.
“Ek is geseënd en gelukkig dat ek kan doen wat ek doen,” vertel hy. Hy was nog altyd lief vir sport. Op skool het hy rugby en krieket gespeel. Toe hy later jare moes kies, het hy rugby gekies. Eintlik meer omdat sy pa so groot liefde vir rugby gehad het.
“My pa het nooit krieket verstaan nie. Ek onthou ‘n wedstryd waar ek gekolf het. Dit het baie goed gegaan en ek dink ek het al 100 lopies geslaan. My pa was in sy motor langs die veld en het vreeslik die toeter gedruk en beduie.
“Ek het gaan hoor wat is fout en toe sê hy: Hoe lank wil jy nou nog speel? Gee die ander ook ‘n kans,” lag André.
André het op sy dag vir die Griffons rugby gespeel, maar ‘n kniebesering het hom gekortwiek. Dis juis die knie wat hom nou moeilikheid gee. Hy het Desember uit die kantoor geloop, skeefgetrap en net gehoor iets klap in sy knie.
Daarna kon hy skaars loop. Hy dra ‘n kniestut en is steeds elke dag op sy pos, maar dit gaan moeilik. ‘n Ortopeed het hom aangeraai om ‘n knievervanging te ondergaan. Die koste daaraan verbonde is egter groot.
Dit gaan ‘n moeilike operasie wees, aangesien hy reeds skroewe in daardie knie het. Sy krieketspelers se ouers het ‘n Back-a-Buddy-rekening begin om hom met mediese onkostes te help.
“Ek is oorweldig deur die ondersteuning en omgee. Self sou ek nooit vir geld gevra het nie. Ek gee eerder, maar dis wat hulle wou doen,” skud hy kop.
Hy wens die knie wil liewer self aangroei, behalwe die onkostes, kan hy nie dink hy moet so lank weg wees van sy spelers en die krieketveld nie.