VEREENIGING – Eerskomende Saterdag breek D-dag vir die eerste rugbyspan Vereeniging Rugbyklub (VRK) aan wanneer hy Bethlehem Oud-skoliere in die eerste rondte van die nasionale Gold Cup aandurf.
Die manne van Vereeniging het die Panne in die eindstryd van die Valke Peregrineliga geklop om vir die Gold Cup te kwalifiseer. VRK het in 2025 tot die tweede rondte gevorder nadat hy vir Pirates geklop het.

Die Gold Cup is ‘n uitklopkompetisie en daar is geen ruimte vir ‘n enkele nederlaag nie. Die sommetjie is eenvoudig verloor en jy’s uit.
Die span het sy finale slypwerk in wedstrydverband gedoen toe hy die Valke Platteland met 65-15 geklop het. Hoewel die eindtelling bevredigend is, het die Valke Plattelands span baie beter teenstand gebied as wat die telbord weerspieel.

Hoewel die damwal in die tweede helfte gebars het, moes die tuisspan hard werk vir elke punt. Saterdag se kragmeting skop om 16:00 af en die hekke open reeds 13:00.
