EntertainmentNews

Eerste liefde gee Tony se nuwe lied vlerke

Toe Tony Knight sy sangloopbaan wou groet, het Debbie hom aangemoedig om aan te hou. Nou kry hul liefde ’n melodie.

’n Herontmoeting met sy eerste liefde ná 36 jaar is die liefdesverhaal agter die plaaslike sanger Tony Knight se nuwe enkelsnit, My Sonneblom Vrou, wat vandag, 16 Oktober, uitgereik is.

Luister die musiekvideo hier:

Knight, wat op 9 Maart sy 70ste verjaardag gevier het, se derde enkelsnit kombineer ligte pop en country met ’n boodskap oor liefde, respek, omgee en deernis.

Die inspirasie vir die lied lê by Debbie, sy eerste liefde met wie hy ná dekades herenig is. Sy het hom aangemoedig om aan te hou sing toe hy dit oorweeg het om sy musiekloopbaan te beëindig.

Die country sanger Tony Knight en sy Debbie. Foto: Christiaan Cloete

Dié verhouding het hom nuwe dryfkrag gegee en vorm die emosionele kern van die lied.

Volgens Knight weerspieël die woorde sy gevoelens so goed dat hy dit net sowel self kon geskryf het.

Suehanie Friedlander het die lirieke en komposisie behartig, terwyl Matthew Fink vir die produksie verantwoordelik was. Die lied is op versoek van Paul de Klerk van Next Music spesiaal vir Knight geskryf.

Volgens Knight het die ontvangs van sy vorige enkelsnit, Soos Net Jy Kan Verstaan, De Klerk aangespoor om nog ’n lied vir hom te laat skryf.

Die omslag van Tony Knight se nuwe enkelsnit.

My Sonneblom Vrou volg op dié vrystelling en Dis Weer Kerfees. Onder Knight se loopbaanhoogtepunte tel die uitsending van sy musiekvideo op kykNET Kraakvars, asook ’n artikel van twee bladsye in Huisgenoot oor sy musiek en liefdesverhaal.

Buiten sy sangloopbaan geniet hy visvang, lees en oefening. Hy werk ook tans aan sy outobiografie.

Nog musiek is in die pyplyn: Knight beplan om Dis Net Jy Vanaand, geskryf deur Gerrie Snyman, later vanjaar as sy vierde enkelsnit uit te reik.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button