Amptelike verkiesingsuitslae vanaand bekend: Vaal wag op finale raadsetels
Die Vaaldriehoek wag om te sien wie in Emfuleni, Midvaal en Metsimaholo gaan regeer en waar koalisies nodig sal wees.
VANDERBIJLPARK – Die finale samestelling van munisipale rade in die Vaaldriehoek sal duideliker word wanneer die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) vanaand, Sondag 8 November, om 18:00 die amptelike uitslae van die munisipale verkiesing bekend maak.
Die aankondiging vind by die Nasionale Verkiesingsuitslagsentrum in Midrand plaas, waar president Cyril Ramaphosa ook ‘n toespraak sal lewer.
Die landwye stemtelling het reeds 99,9% bereik, maar besware en hertellings moet nog afgehandel word voordat die uitslae amptelik verklaar kan word.
Die OVK se voorsitter, Mosotho Moepya, het Saterdag bevestig dat 197 besware ontvang is. Teen 15:00 is 54 van die hand gewys, agt teruggetrek en twee gehandhaaf.
Hertellings is in vyf wyke in Tshwane, Mangaung, Thaba Chweu en Breedevallei gelas.
Emfuleni was Saterdagmiddag een van drie Gautengse munisipaliteite waar die verwerking van uitslae nog nie afgehandel was nie.
Die finale uitslae sal bepaal hoeveel setels politieke partye in Emfuleni, Midvaal en Metsimaholo se munisipale rade kry en waar koalisies nodig sal wees om ‘n meerderheid te vorm.
Hoewel die uitslae vanaand bekend gemaak word, kan onderhandelinge oor koalisies beteken dat die finale beheer van sommige munisipaliteite eers later bepaal word.
