Inperking: 230 000 in eerste 57 dae aangekla
Ons howe gaan sukkel om 'lockdown'-sake te hanteer, sê regskenner
Soos gepubliseer in Vaalweekblad van 3 Junie 2020
Retha Fitchat
Buiten die groot geldelike verliese wat baie Suid-Afrikaners reeds weens die Cobid-19 inperking gely het, is die beperking op vrylike sosiale beweging steeds ‘n uitdaging vir baie mense. Skielik mag jy nie eers by jou bure gaan kuier nie, wat nog te sê om gou oor die Vaalrivier te ry om jou ouers of kinders te besoek! Hoewel meeste inwoners van die Vaaldriehoek daarin slaag om aan die regering se streng inperkingsregulasies te voldoen het ‘n hele paar wat wetend of onwetend die reëls oortree het, hulle teen die polisie of weermag vasgeloop.
In die eerste 57 dae van die inperking is sowat 230 000 sake landwyd deur die polisie geopen, sê Bheki Cele, Minister van Polisie.
Dit sluit oortredings in soos alkohol- en sigarethandel, onwettige byeenkomste, sake-oortredings, mense wat op ontoelaatbare tye buite hul huise was, onwettige oorgrens of interprovinsiale beweging, plundering van skole en ander staatsgeboue, en vervoerverwante oortredings, veral deur taxi’s.
Mense is óf boetes opgelê óf op waarskuwing vrygelaat. Sommige het borgtog gekry en moet later in die hof verskyn.
Sluikhandel in sigarette en drank het in Vlak 5 en Vlak 4 van die inperking hoogty begin vier. Hoewel die verbod op drankverkope intussen opgehef is, is die sluikhandel gedurende naweke, wanneer drankwinkels gelsuit moet wees, skynbaar steeds springlewendig. ‘n Vaalweekblad-ondersoek onder 60 mense in ons gebied, het die afgelope week getoon dat sowat 10% rokers sedert die begin van die inperking opgehou rook het, maar die oorblywende 90% kry hul voorraad steeds by die nou stewig gevestigde swartmark in die Vaal.
Polisie- en weermagpersoneel het gedurende Maart en April beslag gelê op meer as R3 miljoen se onwettige drank en sigarette op Suid-Afrika se grense met Mosambiek en Zimbabwe.
Tog is daar volgens minister Cele sedert die begin van die inperking ‘n drastiese afname in misdaad – veral in geweldsmisdaad, huishoudelike geweld, motorkapings, huis- en sakerooftogte. Verkragting het afgeneem van 2 908 gevalle tot 371 in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Moord het van 1 542 voorvalle tot 432 gedaal. Slegs 3 061 voorvalle van gesinsgeweld is aangemeld teenoor die 9 990 in dieselfde tyd verlede jaar. In die eerste 60 dae van die inperking was daar slegs vier transito-rooftogte in die land, vergeleke met 26 in die ooreenstemmene tyd verlede jaar.
Die groot afname in ernstige geweldsmisdade soos moord en verkragting kan volgens minister Cele toegeskryf word aan die verbod op drankverkope en doeltreffende sigbare polisiëring.
Ian Cameron, AfriForum se hoof vir gemeenskapsveiligheid, sê die minister kan nie al die krediet vir die afname in misdaad gedurende Vlak 5 en Vlak 4 van die inperking kry nie. Cameron meen dit was te verwagte dat daar minder misdaad sou wees terwyl mense nie vrylik kon rondbeweeg nie.
Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies sê ook Cele se misdaadsyfers is selektief deurgegee en dat daar mooi gekyk moet word na die redes vir die afname in sekere misdade. Burger meen in die geval van die afname in verkragtings kan dit wees dat die slagoffers eenvoudig nie by polisiestasies of klinieke kon uitkom om dit aan te meld nie. Hy glo die verbod op drankverkope gedurened die inperking het wel ‘n positiewe uitwerking op die laer moordsyfer gehad.
* Regskenners wat deur Vaalweekblad om kommentaar genader is, meen die regering gaan sukkel om almal te vervolg wat gedurende die inperking weens beuselagtighede in hegtenis geneem is. “Ek twyfel of ons reeds oorvol howe die stroom van nuwe ‘lockdown’-misdadigers sal kan hanteer,” sê ‘n plaaslike prokureur.
