Nuwe enkelsnit: Vir Derónshay is die liefde soms soos ‘n tuimeltrein!
Dié liedjie is in ’n vlaag van woede geskryf, maar vandag laat die opgewekte deuntjie mens se voete behoorlik jeuk op die dansvloer!
Ry Nou, die nuutste enkelsnit deur die talentvolle sanger en liedjieskrywer, Derónshay, skets die prentjie van ’n paartjie in ’n stormagtige verhouding, wat ’n mens laat dink aan ’n emosionele tuimeltrein.
Dié country swing-snit is gebore toe sy en Benjamino le Roux Woest koppe (en penne) bymekaar gesit het om iets nuut en treffend te skep, met die hulp en ondersteuning van Hendrik Meyer van Eagle Wings Recording Studio as vervaardiger.
“Ry Nou is gebaseer op een van my eie ervarings,” verklap sy oor die inspirasie agter die lied. “Dit was ’n veeleisende verhouding wat op die einde veroorsaak het dat ek self nie eers meer geweet het wat ek nou eintlik wou hê nie. Al wat ek geweet het was dat dinge moeilik en deurmekaar was.”
Maar die ervaring was nie nét sleg nie. Al het haar kêrel baie druk op haar gesit en geïrriteerd geraak met haar musiek-ambisie, het sy ook geleer wat sy wél in ’n verhouding soek. Die lied is destyds aanvanklik in ’n vlaag van woede geskryf, maar vandag laat die opgewekte deuntjie aanhangers se voete jeuk op die dansvloer.
Ry Nou volg in die voetspore van die musikant se eerste enkelsnit, Own Accord. “Mense is nie regtig bewus van hierdie lied nie, want dit is gedurende die Covid-pandemie geskryf en vervaardig,” sê sy. Dit het haar egter goed genoeg op dreef gesit dat sy beoog om einde vanjaar haar eerste album vry te stel.
Die feit dat sy aanhangers het wat in haar glo, is vir haar ’n daaglikse hoogtepunt. Op die oomblik is sy met niks anders behalwe musiek besig nie en maak sy dit haar missie om haar sang- en skryfvaardighede te verbeter.
Eet, slaap, musiek, herhaal. Dís waaruit haar lewe tans bestaan. Sy kom uit ’n musikale familie en daar was nog nie ’n dag in haar lewe waaraan sy kan dink wat sy nié wou sing nie: “As dogtertjie het ek altyd hardop in die publieke badkamers gesing asof niemand anders my sou kon hoor nie. Ek het natuurlik ook my twee sussies in die huis mal gemaak met my alewige gesingery,” skerts sy.
Twee jaar terug het sy besluit om ernstig te raak oor haar musiek en het sy ekstra vaardighede aangeleer soos om kitaar en ukelele te speel. Sy sê wel dat sy ’n veearts sou wou word indien sy ’n ander loopbaan moes kies.
“Eloff is vir my ’n groot inspirasie en ek was van die begin van sy loopbaan af al ’n aanhanger,” deel die sangeres oor haar rolmodel in die plaaslike musiekbedryf. “Wat hy alles in so ’n kort tyd vermag het, neem ander sangers byna ’n leeftyd om te bereik.” En as ’n mens haar vra saam met wie sy nog graag in die bedryf sal wil werk, is haar eerste keuse Demi Lee Moore, omdat sy haar suiwer stem bewonder.
Iets wat nie baie mense van haar weet nie, is dat sy eintlik ’n introvert is wat verkies om haarself eenkant te hou. Omdat sy nie altyd met ’n glimlag op haar gesig rondloop en haarself nie sommer sal inwurm by mense en groepe nie, reken haar ma dat sy soms nors kan voorkom. Hieroor lag sy en verduidelik dat dit maar net is hoe sy haar gesig trek.
Derónshay put inspirasie uit haar eie emosies. Sodra haar hart vol is, gryp sy graag na pen en papier om te skryf oor die dinge wat in haar lewe aan die gebeur is. Sy vind aanklank by Olivia Rodrigo se skryfstyl omdat sy voel dat daar diepte in haar inspirerende lirieke is. Deesdae neig haar eie styl meer na country en voel sy dat hierdie diep lirieke juis perfek daarby inpas.
Die lewe is vir haar ’n leerskool en die laaste jaar het sy besef dat die musiekbedryf ’n tawwe een kan wees: “Jy moet mooi dink oor wie jy kan vertrou en moet besef dat almal nie altyd gaan hou van wat jy doen nie. Mense kan uitdagend wees en die vraag wat jy jouself moet afvra is of jy die kritiek gaan vat as ’n negatiewe ding, en of jy dit tot jou voordeel gaan gebruik en daaruit verbeter.”
Derónshay se gunsteling-aanhaling oor musiek is: “Musiek is die lied wat die hart wil sing”. Met Ry Nou deel sy juis die lied wat haar eie hart so graag wou sing saam met die wêreld.
Luister na die liedjie op You Tube: https://www.youtube.com/watch?v=9b1AaNKr0tM
VOLG HAAR OP:
Facebook: https://www.facebook.com/profile.php?id=100066734950634&mibextid=ZbWKwL
