Local news

Vanderbijlparker James White bring ‘n boodskap van hoop met nuwe lied

Musiek en sang is duidelik in sy gene. Sy ma en haar familie kon die trekklavier in boereorkeste speel en in sy pa se familie was daar orreliste en kitaarspelers

VANDERBIJLPARK. – James White is ‘n opkomende kunstenaar wat na jare wat hy reeds musikale aanbidding by gemeentes lei, besluit het om sy eerste enkelsnit vry te stel. Hierdie Vanderbijlparker wil graag hoop en vrede bring met sy nuwe enkelsnit, Ek het jou waarlik lief!

James sê: “Die inspirasie agter die lied is ‘n Hemelse Vader wat ten spyte van ons tekortkominge en daaglikse gesukkel, nie opgee op ons nie. Hy bewys eerder Sy ware liefde vir ons met Jesus se kruisdood. Jesus verstaan waardeur ons gaan want Hy was self ook mens.” Die kunstenaar meen dat dit die rede is waarom ons “in Sy ware liefde kan leef”.

James sê die lied ‘Ek het jou waarlik lief!’ is die antwoord op baie mense se wanhoop. “Mense vra dikwels waar sal ons hoop vandaan kom, en hierdie lied dra daardie boodskap van ware hoop oor – Jesus.”

James bestempel die skryf van die lied as een van die hoogtepunte van sy loopbaan. “Al het ek al ander liedjies geskryf, het niks my nog so diep getref soos die skryfproses van hierdie een nie. Ek voel dis nou die perfekte tyd om dit vry te stel.”

Musiek en sang is duidelik in sy gene. Sy ma het die trekklavier gespeel en haar familie was lede van ‘n boereorkes. Onder sy pa se familielede was daar orreliste en kitaarspelers. Dus was niemand verbaas toe die musiekgogga hom ook byt nie. Hoewel hy al vir jare by kerke se sang-en-aanbiddingsbedieninge betrokke is, het hy eers sewe jaar terug die moed gehad om sy hand op papier te waag en sy eie musiek te begin skryf. Hy beskryf die skryfproses as “verrykend – aangesien ek baie daarvan hou om kreatief te wees en iets nuuts te skep”.

James vind sy inspirasie by goeie musikante. Hy kan vir ure luister na verskeie lewendinge “bands”. Hy sal ook graag eendag ‘n lied saam met iemand soos Retief Burger wil sing. Benewens geestelike musiek luister James graag na goeie Afrikaanse “storievertellers” se musiek, soos Juanita du Plessis, Theuns Jordaan, Elvis Blue, Koos du Plessis en Mathys Roets.

As dit kom by sy toekomsplanne is James opgewonde om te sien wat die Here met sy lied wil bereik. Hy dink nie langtermyn nie maar vertrou eerder op die Here se plan. Hy sal wel mettertyd ook van sy ander oorspronklike musiek wil opneem en vrystel. Dit het hom lank gevat om by die punt te kom waar hy glo sy musiek is goed genoeg, en hy is dankbaar vir sy familie se volgehoue ondersteuning omdat dit hom nog altyd baie gedra het.

James is daarvan oortuig dat sy lied “Ek het jou waarlik lief!” deur die Heilige Gees geïnspireer is en dat almal wat daarna luister, nuwe hoop en vrede sal ervaar.

Luister na sy liedjie hier: https://www.youtube.com/watch?v=z_1rV-7imfg

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button