Local news

Rubriek: ‘Prettige’ polisiepetaljes in die Vuildriehoek

Die media en polisie is soos water en olie.

Magsvertoon het sy tyd en plek.

Vra maar vir president Donald Trump.  Of jy hom verafsku of aanbid die man weet hoe en wanneer om sy rug en kuite stuif te maak.

Dis egter ‘n fyn kuns. ‘n Kuns wat sommige sterflinge nooit sal bemeester nie. Dit het ek weer verlede week op ‘n misdaadtoneel weer beleef. Maak nie saak hoe hoflik of vriendelik jy is nie.

Jy word met minagting en afguns hanteer. Een ding staan uit soos ‘n paal bo water. Die media en polisie is soos water en olie. Hulle meng nie lekker nie. So bevind ek my langs Barrageweg besig om vir ‘n vale te verduidelik hoekom ek daar is.

Die eerste linie van weerstand is ons geliefde lede van die verkeerspolisie wat met swaaiende arms bo sy kop jillend en gillend op my afstorm terwyl motoriste en hardwerkende munisipale werkers in hulle oranje pakkies my aangaap.

Dis beter as realiteitstelevisie. Dis asof die media-akkreditasie om my nek niks beteken nie. Standing order 156 met betrekking tot die media lui ook geen klokkie by die ampsdraer nie. Die media hoef nie toestemming te vra om foto’s te neem nie. Punt. Die wasagtigheid in sy oë laat my besef dit is ‘n verlore stryd.

Na 10 minute se verbale karate kry ek toegang tot die toneel. Die son skyn fel op my neer terwyl ek sowat 200m instap op Barrageweg. Hier tref die tweede golf van weerstand my. ‘n Sekuriteitswag wat haarself as die titel beskermheer van die toneel toegewys het.

Die “skermutseling” was egter kortstondig. Ek vermoed ‘n paar groot woorde van my kant af het haar gepootjie. Maar haar toetrede tot stryd het genoeg gedoen om kollig op my te vestig.

Weer poog ek om aan ‘n kolonel te verduidelik dat ek my werk moet en sonder verhindering mag doen. “Daar is immers al foto’s van die toneel op sosiale media,” probeer ek ‘n ander loopgraaftaktiek.

Nadat die kolonel se strak gesig effens versag het, moet ek weer my teenwoordigheid verduidelik. Die keer aan die polisie se mediawoordvoerder, ‘n aangename kêrel wat pas uit ‘n lugversorgde kantoor gestap het.

Maar ek is steeds de moer in. Nou kan ek begin foto’s neem. Of so het ek gedink. Die oorywerige sekuriteitswag se kollegas wat soos ryers agterop die werksbakkie se laaibak sit en kyk, aanvaar toe die onbaatsugtige taak om my soos paroolbeampte te ondervra.

“Gaan jy nou foto’s neem? Vir wie het jy gevra.” Dis toe dat ek die leeu wat in my borskas grom, laat brul. My moermeter haak nou vas. Uiteindelik daag die pataloë se lykswa op en die liggame van die drie oorledenes word verwyder.

Ek neem foto’s na hartelus. Niemand sê niks. Die magsvertoon-sessie is verby. Hoekom in die eerste plek stoei? Is dit onkunde of moedswilligheid?

Terug voor my rekenaar kyk ek na die foto’s, voordat ek dit op ons webtuiste laai. Die realiteit tref my soos ‘n yskoue emmer water in die gesig. Van wanneer af gebruik die polisie rooi en wit chefron band om ‘n toneel af te sper?

Gebruik mens seile van ‘n naby geleë instelling om liggame mee te bedek of moet die polisie oor sulke items beskik? Mmm. Goeie vraag! Ek besef toe dat aanval maar seker die beste verdediging is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button