‘n Reënboog van kleur, klank en kinderlaggies
Rainbow House Kleuterskool en nasorgsentrum doen sy naam gestand. Helder kleure en gelukkige kidnders is oral, maar hul kort hande en fondse om die gebebou in stand te hou.
VANDERBIJLPARK – Soms kry mens ‘n blom wat in die middel van nêrens groei, daar is nie eens grond nie, maar die plantjie stoot ‘n blom uit.
Rainbow House in CW6 is presies so. ‘n Klein kleuterskooltjie en naskoolsentrum waar alle kinders van babadae tot Gr R welkom is.
Daar is selfs drie maats met spesiale leerbehoeftes. Die kinders is gelukkig in hul klassies. Daar word vir ‘n maatjie gesing wat verjaar. Die jongeling met blou versiersel om sy mond besoek elkeen van die ses klasse en by elke klas word hy plegtig geluk gewens.
Hy straal. Alles by die skool is in helder kleure. Die glimlaggies groot. Maar, kyk verby die helder stoeltjies en tafeltjies en jy sien die verf wat van die klaskamers se mure afdop.
Die jare se waterskade wat aangespreek moet word. Die beperkte speelgoed binne en buite.
Die skooltjie het hulp nodig. Enige hulp. Die eienaar en hoof, Latasha Strydom, sê sy en haar man en van die personeel is elke naweek by die skool doenig om te kyk waar hulle wat kan regkry, maar hul sente strek ook net so ver.
Latasha sê die meeste van die skool se ouers sukkel finansieel en kan of net die helfte of glad nie skoolfonds bekostig nie.
“Ons doen alles in ons vermoë, maar die plek het aandag nodig. Enige hulp van enige kant af sal waardeer word. Al is dit net ekstra hande wat so nou en dan kan kom help met herstelwerk of ‘n blik verf. Ons doen wat ons doen vir die kinders.
“Hier is nie so baie kleuterskole die kant van die dorp nie. Ons is geregistreerd by die Departement van Onderwys. Die personeel is opgelei. Hierdie kinders se ouers werk, daar is nie ‘n ander heenkome vir hulle nie.
“Help ons asseblief,” pleit sy. Vir meer inligting kontak haar gerus per WhatsApp by 060 642 8861.
