VANDERBIJLPARK – Sy is in graad sewe en droom daarvan om eendag Suid-Afrika by die Olimpiese Spele as gewigstoter te verteenwoordig.
Nie ‘n onbereikbare droom nie, want Dilliné Gouws is Suid-Afrika se gewigstootkampioen in haar ouderdomsgroep.

Sy het onlangs vir die vierde agtereenvolgende jaar eerste plek by SA Atletiekkampioenskappe behaal.
Sy onthou hoe sy aan die begin van graad vier haar pa gevra het, wat noem mens dit as jy die swaar bal gooi.
Haar pa het haar daar en dan aan gewigstoot voorgestel. Hulle het die middag so bietjie geoefen en net daarna het sy haar eerste podium plek bereik.
Daarna het sy elke dag begin oefen. Sy het al nie-amptelik 13,5 m gegooi, maar dit was tydens ‘n oefening. Op 21 Maart het sy die goud in die item vir dogters o13 verower met ‘n pragtige afstand van 12,61 m.
Naas gewigstoot, speel sy ook hokkie en netbal. Van die twee sportsoorte verkies sy dit om netbal te speel en sê sou sy dit nie maak om eendag SA in gewigstoot te verteenwoordig nie, wil sy dit graag as Proteanetbalspeler doen.
“Ek gaan beslis ‘n professionele atleet wees en dan wil ek ook ander kinders help sodat hulle ook hul beste kan gee,” het sy haar drome gedeel.
