Ek sê maar net… Dankbaar vir sangoma-vrye PUK van toeka
RUBRIEK - Mis ek nou my dae op die PUK. Dit was lank gelede. Kommervrye dae sonder sangoma rituele in die nag.
RUBRIEK – Lees ek in ons susterskoerant, Potchefstroom Herald van ‘n sangoma in ‘n meisieskoshuis op die NWU se Potch kampus. Daar was tot ‘n video by. Donker video met ‘n onaardse geskreeu. Die saak word ondersoek.
Sjoe, kyk ek het op daardie einste kampus vier jaar in ‘n koshuis gebly. Maar geen sangoma was ooit naby die plek nie. Is volksvreemd vir my.
Dalk moes hulle die res net eers gewaarsku het alvorens so ‘n lawaai in die middel van die nag uitbreek? Bygesê in die dae toe ek geswot het was dit nog die PU vir CHO. Die kleure was maroon en ons was PUKKE. Trots daarop ook.
Nie dat ons altyd streng volgens die reëls te werk gegaan het nie, maar darem het ons nooit ‘n hele koshuis in vrees laat leef nie. Dink die ergste was toe Karlien van Karlien Koshuis met ‘n swart pruik op deur ‘n venster op die vierde vloer geklim het en so al met die lysie langs aan die eerstejaars se vensters geklop het.
Dit was nou dieselfde aand wat ons hulle vertel het van die vreeslike treinongeluk wat eenkeer daar op die kampusstasie plaasgevind het en dat die spoke eenmaal ‘n jaar die kampus bewandel, veral as die maan lyk soos wat dit daardie aand gelyk het.
Was ‘n groot lieg, maar ‘n lekker storie. Nie ons skuld hulle het ons geglo nie. Ons het pret gehad. Hard gewerk en lekker gespeel.
So hier en daar klas gebank, viennas in ons ketels gekook en oor die botaniesetuine se hek geklim vir ‘n middernagfees.
Intussen het daar drie dekades verloop en alles het verander. Van die naam van die universiteit tot by die studentesentrum. Alles verander mos maar met die tyd saam.
Wat van die sangoma storie gaan word het ek geen idee nie. Ek sien op bakkiesblad het daar reeds storms van rassisme losgebars.
Dit maak seer om te hoor hoe gaan dit op die kampus. Wonder of die Calvynfontein nog daar is? Ek weet my ou koshuis staan nog. Maar niks is meer dieselfde nie. Ek is dankbaar vir die dae wat ons gehad het.
Van veilig deur die duikweg loop, trein ry om in Krugersdorp te gaan kuier, tot middernagfeeste en manne wat by koshuise kom sêr. Eenmaal ‘n PUK, altyd ‘n PUK. Niemand kan ons herinneringe steel, vertrap of verwoes nie. B
